Help! Ek ken nie my kind nie

0
182
oulike_ma_1.png

Voel jou kind soms vir jou soos ’n vreemdeling? Dan is die volgende drie lesse spesiaal vir jou, Ma!

Alta van Wyk* (40) vertel hoe haar dogter, Estelle, vreeslik skaam begin raak het teen die ouderdom van vier. “Aangesien my man ’n dominee is, het almal by die kerk die kinders geken en maklik geselsies aangeknoop. My seun, Chris, was gemaklik met die mense.” Maar Estelle was anders. “Sy sou aan my rokspant vasklou en agter my been wegkruip. As iemand haar groet, het sy afgekyk en gewag dat ek vir haar praat.”

Alta het dan geïrriteerd geraak. Sy wou haar dogter dwing om die mense ordentlik te groet. “Dis mos hoe dit hoort! Ek het haar dan geleer om mense in die oë te kyk en te kommunikeer.” Hoekom tree sy so op? Nie ek of haar pa is skaam mense nie, sou Alta dan dink.

LES #1: Jou kind is nie jy nie

Nou dat Estelle ouer is, blyk dit sy is ’n baie goeie atleet. Sy bring ure buite deur met oefen en leef in haar oefenklere. Die naaste wat sy aan mooimaakgoed kom, is die haarrekkie waarmee sy haar poniestert vasmaak. Vir haar is sweet op jou voorkop die enigste teken dat jy iets geniet. Alta is glad nie so nie. Sy breek gewoonlik ’n enkel as sy verder as twee treë hardloop. En sy haat sweet. Dit laat ’n mens se grimering smeer.

Verskille soos hierdie kan baie maklik ’n kwessie raak tussen ma en dogter. Dit voel of julle niks gemeen het nie en oor niks saamstem nie. Gesprekke met ander ma’s oor wonderlike ma-dogter-afsprake maak dinge nog erger. Beteken dit jy is ’n slegte ma? Glad nie! Die probleem lê egter daarin dat jy dalk ’n baie spesifieke prentjie van ma-wees in jou kop geskets het. En dit sluit nie ’n kind in wie se persoonlikheid van joune verskil nie.

Bloed is dalk dikker as water, maar dit beteken nie jou kind is jy nie. Aanvaar haar “andersheid” en omhels dit.

LES #2: Geniet wat julle wel gemeen het

Alta en Estelle het oor die jare agtergekom dat hulle albei van musiek en flieks hou. Hulle maak seker dat hulle dit saam geniet. Hoewel hulle inkopies soos dag en nag verskil, geniet hulle dit om ná die tyd ’n koppie koffie te drink. Estelle is nie Alta nie en dis goed so. Hoeveel nie-sportiewe koopslawe het die wêreld dan nou ook nodig? Estelle se persoonlikheid is steeds anders as haar ma s’n. Tog het haar skaamheid verander in ’n pragtige deel van haar persoonlikheid: sy het min, maar hegte vriendskappe.

Moenie tyd verkwis op vrese en bekommernisse oor jy en jou kind nooit oor die weg gaan kom nie. Of dat jy nie gaande is oor haar eiesoortige persoonlikheid nie. Dis tydmors. Jy kon die tyd gebruik het om haar beter te leer ken. Of julle kon iets vind wat julle wel gemeen het. As jou kind byvoorbeeld van atletiek hou, beteken dit nie jy moet saam hardloop nie. Vat jou gunstelingtydskrif saam baan toe en sorg vir ’n bottel koue water in jou handsak. Dís goed genoeg om haar passie saam met haar te leef.

LES #3: Jou kind is ’n kunswerk in wording

Alta het keer op keer gedink sy maak ’n antisosiale kind groot wat eendag sonder vriende gaan sit ‒ ongelukkig en alleen. Maar Estelle was in die proses om te leer wie sy is.

As ouer is dit jou werk om vir jou kind respek, liefde en vriendelikheid te leer en haar interpersoonlike “gereedskap” te ontwikkel. Maar dis ook jou werk om te wag, te leer en te sien wie jou kind besig is om te word. Dis soms vreesaanjaend om toe te kyk hoe jou kind ’n tantrum kry en te dink jy hou nie van die mens wat jy sien nie… Jy wonder dalk: Watse monster is ek besig om groot te maak?

Moet jou egter nie oor hierdie enkele “kiekie” bekommer nie. Dis net ’n tydelike prentjie van ’n oomblik in vandag. Hierdie “kiekie” is nie wie jou kind gaan word nie. Dis al die foto’s saam wat ’n volledige, komplekse album van jou kind vorm. Die groter prentjie wys al die temperamente wat geskaaf is en ondervindings wat tot volwassenheid lei. En dít vorm die pragtige persoon wat jou kind eendag gaan wees soos God dit bedoel het.

* Nie haar regte naam nie

Vertaal en verwerk uit Help! Who Is This Child? van Sherry Surratt.