Help! Ek voel soos ’n slegte ma!

0
79
ouerskap.jpg

Dink jy jou kind verdien ’n beter ouer? Jou “foute” staan dalk in jou pad om jou kind onvoorwaardelik lief te hê.

Ek voel soos ’n mislukking. Ek probeer hard om die beste ouer vir my kind te wees, maar kry dit nie reg nie. Ons sukkel op die oomblik finansieel en dit voel of ek my kind afskeep deur nie vir haar te gee wat haar maats het nie. Ek moet lang ure werk en voel elke aand skuldig omdat ek nie genoeg tyd saam met haar deurbring nie. Daarmee saam veroorsaak al die spanning dat ek maklik skree en baklei. Ek is bang dit het ’n blywende skadelike uitwerking op haar. Hoe nou gemaak?
~ Antoinette, Nelspruit

Ouerskap en skuldgevoelens is beste maatjies. Elke ma het haarself al die een of ander tyd op die vingers getik of gevoel sy het misluk. Gelukkig hoef dit nie daarby te bly nie; jy kan (en moet!) jouself vergewe en aanbeweeg. Vergeet van jou foute en tekortkominge. Gebruik dit eerder om jou kinders iets te leer.

Om kalm te bly is vir seker nie maklik nie. En kom ons wees nou maar eerlik: Kinders is baie goed daarmee om die verkeerde knoppies te druk. Dis dan dat jou bloed begin kook en jy uit woede of frustrasie op jou kinders skree. Ongelukkig kan jy nie jou woorde terugtrek nie en dan voel jy skuldig daaroor.

Tog is daar ’n silwer randjie: Wanneer jy op jou kind geskree het, het jy die geleentheid om vir haar ’n voorbeeld te stel wat verantwoordelikheid en probleemoplossing betref. Aanvaar verantwoordelikheid en vra haar opreg om verskoning. Verduidelik ook hoe jy die probleem volgende keer meer effektief gaan oplos. Sê byvoorbeeld: “Volgende keer as ek kwaad word, gaan ek omdraai en wegloop, en eers afkoel voor ek met jou praat.”

Wanneer jy swaarkry, is dit maklik om jouself te blameer en jammer te voel vir jou kind. Jy verlaag jou standaarde en vergeet van reëls, omdat jy voel jou kind kry swaar. Om te probeer vergoed vir slegte dinge is egter ’n fout. Al kry jou kind swaar, beteken dit nie sy kan optree soos sy wil nie. Ongeag hoe moeilik dit is, slegte dinge gebeur met ’n mens. Dis deel van die lewe en nie jou skuld nie. Leer jou kind dat ’n mens nie die wêreld of die mense om jou kan beheer nie, maar wel hoe jy daarop reageer. Wees daar vir jou kind en luister na haar.

Ouers voel dikwels skuldig omdat hulle nooit genoeg het om vir hulle kind te gee nie. Onthou jy is ’n mens, nie ’n robot nie. Daar is net soveel uur in ’n dag. Wanneer jy wel tyd saam met jou kind deurbring, maak seker dit is kwaliteittyd. En het enigiemand regtig genoeg geld? As jy nie vir jou kind die nuutste en beste kan koop nie, hoekom help jy haar nie om aan ’n manier te dink om self die geld bymekaar te maak nie? Neem ’n doelbewuste besluit om jou fokus te verskuif. Jy het dalk nie genoeg geld of tyd nie, maar jy kan vir haar sterk waardes leer: om hard te werk, spaarsaam te wees, dankbaar te wees vir wat sy het en tyd te maak vir ander.

Nog iets waaroor ouers gou skuldig voel, is inkonsekwentheid. Dalk is jy te moeg of te oorweldig wanneer Sussie oortree; daarom verskil die straf vir dieselfde oortreding altyd. Miskien verset jou kind haar so erg wanneer jy haar dissiplineer dat dit konsekwentheid selfs nóg moeiliker maak. Ontspan.
Identifiseer jou persoonlike struikelblokke en maak ’n plan om dit een vir een aan te pak. Dis nooit te laat om meer grense te stel of meer konsekwent te wees nie.

Vergeet van al jou foute in die verlede en fokus op die toekoms en alles wat jy reg gaan doen. Wees die soort ouer wat jy graag wil wees, nie die soort wat jy dink ander van jou verwag om te wees nie. Begin sommer nóú met hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe.

Jy hoef nie perfek te wees nie. Jy is goed genoeg nes jy is, foute en al, spesiaal uitgekies as ma vir jóú kind. Leer uit jou foute, vergewe jouself en gaan verder.

Vertaal en verwerk uit ’n artikel van Sara Bean.

FORUM:
Het jou kind al ooit vir jou geskree: “Ek haat jou!” Wat het jy gedoen? Hoe het jy gereageer?