Help jou kind om getrou te studeer

0
227
leer.png

Jy weet jou kind kan beter presteer, maar as jy met haar daaroor praat, rol die oë hemelwaarts. Skoolwerk is boring. Hoe kry jy haar sover om getrouer te werk sonder dat daar oorlog uitbreek?

As dit kom by die internet, Facebook, musiek en klere koop, is daar nie ’n lui haar op haar kop nie, maar vir die skoolboeke is sy skynbaar allergies. Jy wil mal word, want jy weet hoe belangrik dit is dat jou kind se skoolpunte goed moet wees – om universiteitstoelating te kry, dalk ’n beurs en bloot net omdat jy weet sy is tot meer in staat. Jy kerm in haar ore dat sy lui en onverantwoordelik is. Julle baklei aanmekaar oor haar skoolwerk.
Die belangrikste ding wat jy in gedagte moet hou, is dat jou kind se brein fisies nog nie ten volle ontwikkel is nie. Dit beteken dat haar aandagspan, haar vermoë om langtermyndoelwitte te stel, haar deursettingsvermoë en verantwoordelikheidsbesef nog aan die groei is. Dit is jou taak – en voorreg! – as ma om haar hierin te begelei, en met hierdie wenke kan jy dit doen.

Wys jou kind jy is aan haar kant

Laat jou kind verstaan jy is aan haar kant en nie teen haar nie; julle is in dieselfde span. So kan jy regtig ’n invloed uitoefen – en dit is jou belangrikste wapen. Om te preek en te dreig sal net julle verhouding versuur. Jou kommer en frustrasie is verstaanbaar, maar hou liewer die emosies vir jouself. Onthou, dit is jou werk om haar te help om te leer hoe om verantwoordelik te wees. As jy dit ’n kwessie van “goed” en “sleg” maak, sal sy in verset kom in plaas van om dinge self te deurdink.

Pas die “as jy .., dan …” reël toe

Lewer eers die inset, dan kry jy die beloning. Dit is een van die lewe se reëls. So, onderhandel met jou kind: “Jy kan na jou maats toe gaan as jy klaar geleer het.” “As jou huiswerk klaar is, kan jy op Facebook gesels.” Maak hierdie reëls en hou daarby. As jou kind nog nie kan beplan en haar eie inisiatief gebruik nie, moet jy haar help. Jy stel die struktuur vas en sy moet doodeenvoudig daarby hou totdat sy dit self kan doen.

Kry ’n ideale studiehoekie vir huiswerk

Rig ’n plek in haar kamer of ’n studeerkamer in wat net vir huiswerk bedoel is. Miskien moet jy nog by haar sit terwyl sy werk, maar sorg dat dit gerieflik is. Eksperimenteer eers met waar dit die beste is (gewoonlik nie op die bed nie!). Sodra julle ’n geskikte plek gekry het, laat sy al haar leerwerk daar doen. Maak dit mooi met kleurryke penneblikkies en viltborde, sodat dit vir haar lekker is om daar te sit en werk.

Breek die werk op in kleiner stukkies

Verduidelik vir jou kind dat daar net een manier is om ’n lang ent pad te loop: tree vir tree. Besluit saam of dit dalk makliker sal wees om projekte in kleiner dele op te deel. Plak ’n lekker groot witbord of kalender teen die muur sodat sy herinner kan word aan wat elke dag se werk is. Moet haar nie heeltyd help nie, maar vra nou en dan iets soos: “Maak hierdie paragraaf vir jou sin?” of: “Vertel vir my meer van hierdie stuk werk.” As sy bly sukkel, is dit dalk ’n goeie idee om ekstra klasse te reël.

Wees vriendelik en liefdevol maar bly streng

Probeer jou bes om behulpsaam te wees. Werk sagkens met jou kind, maar bly ferm. Pasop om nie te veel beheer te probeer uitoefen nie. Fokus daarop om ondersteunend te wees en haar aan te moedig. Daar sal natuurlik negatiewe interaksies wees, maar maak seker dat jy vir elke negatiewe interaksie tien positiewes skep. Prys haar gereeld as sy getrou gewerk het en goed doen.
Stel belang en raak betrokke by jou kind se skool en skoolwerk, maar onthou die groter prentjie. Vriende, sport en ander aktiwiteite verryk ’n mens se lewe. Dit is belangrik dat kinders moet weet dat daar ’n gesonde balans moet wees.
En dat jy moet weet dat daar ’n verskeidenheid paaie na sukses is.