Help! My man is in sy grot …

0
15
mans.jpg

As jou man voor die televisie gaan sit sonder om ’n woord te sê is hy tipies man.

Al ooit vermoed jou man is ’n grotman? Wel, ons wil graag jou vermoede bevestig. Vroue is emosionele wesens wat dinge wil uitpraat en hulle emosies op die lappe wil bring. Mans daarteenoor, klap soms soos oesters toe en raak onheilspellend stil. Maar hoekom kruip mans in hulle grotte? In die artikel Why men withdraw and what to do about it (www.womensselfesteem.com) skryf Christian Carter dat die manier waarop jy met jou man oor die verhouding praat, die grootste fout kan wees wat jy as vrou kan maak.

Konflik en spanning gee hom stilstuipe

Maar konfliksituasies is nie die enigste tye wanneer manlief sy knuppel gryp en eenkant gaan brom nie. Spanning speel ook ’n groot rol. In die boek Men are from Mars, Women Are from Venus sê die outeur Dr. John Gray dat mans en vroue verskillend reageer onder druk. Baie mans onttrek tot hullen oplossing vir die probleem kry. Hy verwys hierna deur te sê mansvind toevlug in hulle grotte”.

My man is ’n tipiese grotman

Justine sê haar man is ’n tipiese grotman. Sy grot is voor die televisie, vertel Justine. “Corné is ’n redelike goeie kommunikeerder, maar, danksy sy beroep as rugbyspeler en al die verantwoordelikheid wat daarmee saamgegaan het, het hy baie sulke grottye gehad.” Justine sê sy kon verstaan hoekom hy in sy grot geklim het. “Hy moes die heeldag, waar hy ook al was, watch wat hy gedoen en gesê het. Ek dink dit is vir enige man in ’n pos met ’n hoë verantwoordelikheid, só – teen die tyd dat hulle by die huis kom, wil hulle net afskakel.”

Deesdae gaan dit beter, glimlag Justine. Corné het nou sy eie onderneming en die kinders vereis dat hulle pa heeltyd op planeet Aarde is. Daarom is daardie alleentye nie meer so gereeld nie. Maar wanneer hulle deur spanningsvolle tye gaan, kom die grot weer terug. “Corné is mal oor jag. Ek dink ook dit is hoekom hy so baie daarvan hou – omdat hy vir ure en ure net op sy eie in die veld kan wees. Hy is ’n mens-mens, maar eintlik ’n introvert.”

Dit was nie altyd maklik nie, erken Justine. “Dit het my op sekere tye geïrriteer, soos dit maar enige vrou irriteer wanneer sy weet sy het iets gesê en haar man dring daarop aan dat sy dit nie gesê het nie.”

Die paartjie kommunikeer egter baie goed en Justine weet dat Corné in sy grot kruip wanneer hy spanning beleef. Daarom maak hulle ook ’n punt daarvan om gereeld vir ’n naweek weg te gaan of bosveld toe te ontsnap. Justine is gelukkig in dié sin dat Corné nie wegskram van verhoudingspraatjies nie. Sy sê dadelik wat haar pla, en as Corné nie onmiddellik daarop reageer nie, sal hy later terugkom en dit uitpraat. “Ons is goed met verhoudingskwessies, want dis vir ons belangrik dat niks intervene in ons verhouding nie …”

Mans trek weg, maar kom weer nader

Seksuoloog en huwelikskenner Elmari Craig sê: “Die feit dat Justine ervaar dat Corné, soms nodig het om na sy grot te gaan, is ’n algemene verskynsel. Mans gaan na hulle grotte wanneer hulle stres ervaar, terwyl vroue dan eerder wil praat. Mans het verskillende grotte: gholf, jag, TV-kyk of kuier saam met pelle.

In huweliksberading sê ons dat mans soos rubberrekkies is. Hulle het nodig om soms weg te trek, om dan weer skielik nader te kom. Hy doen dit om sy selfstandigheid te herbevestig en sy behoefte aan intimiteit te versterk. Dit is die normale manlike intimiteitsiklus. As ons as vroue dit nie verstaan nie, of ons mans dit nie gun nie, kom jy eintlik jouself en jou huwelik te na. Dit gaan veroorsaak dat hy meer wegskram, jy meer nader wil kom, en ’n bose kringloop ontstaan.

Jou man wil jou held wees

Ons moet onthou dat daar diep binne elke man ’n held is. Hy wil graag sy vrou beskerm en gelukkig maak. Daarom het hy nodig om te weet dat jy hom vertrou. Moet nooit sy gedrag probeer verbeter of hom vertel hoe om dinge te doen nie. Aanvaar hom soos hy is. Moenie sy ma probeer wees nie, en moenie retoriese vrae vra nie. Mans word gemotiveer en bemagtig wanneer hulle voel hulle is nodig. Dit gaan dus nie oor wat jy vir hom doen nie, maar eerder oor hoe jy reageer op wat hy vir jou doen!

’n Paar praktiese wenke om jou grotman te hanteer:

  • As hy uit sy grot kom, groet vriendelik en moet hom nie kwalik neem nie.
  • Moet nooit sê: “Ek het jou mos gesê nie”.
  • Moet hom nie straf nie.
  • Moenie ’n groot storie daarvan maak as hy verdwaal nie.
  • Aanvaar dit as hy bloot vergeet om iets te doen.
  • Verstaan as hy jou nie kan ondersteun nie, en grottyd nodig het.
  • Aanvaar verskonings met grasie.
  • Wees bly as hy by die huis kom.
  • Geniet seks met hom.
  • Moenie advies gee oor hoe hy ry of parkeer nie.
  • Deel negatiewe gevoelens sonder om te blameer of te verwerp.
  • Moenie manipulerend wees nie.
  • Moenie seks as ’n wapen gebruik nie.