Help sy brein ontwikkel

0
1077
Lizanne du Plessis

Gene speel ’n rol in hoe ’n kind se brein ontwikkel, maar jou verhouding met jou kind en die omgewing vorm drasties aan sy brein.

Ons hoef nie meer te wonder wat in ons of ons kinders se breine gebeur wanneer ons nuwe dinge beleef of nuwe vaardighede aanleer nie. ’n Breinskandering gee deesdae vir ons hierdie inligting. Daaruit leer ons ook dat die natuur (gene) en kultuur (jy en die omgewing) jou kind se brein vorm.

Koester julle verhouding

Daar is ’n paar dinge wat gesonde breinontwikkeling beïnvloed. Interaksie en die bou van verhoudings vorm die basis vir die brein om reg te ontwikkel. Met elke interaksie wat tussen jou en jou kind plaasvind, vorm daar verbindings tussen die breinselle.

Wanneer ’n baba gebore word, maak hulle geluidjies, trek gesigte en beweeg hulle lyfies. As ons dan hierop reageer, begin ’n pragtige ooren- weer-verhouding wat help om sy breinpaadjies te vorm. Om na jou kind te luister en vir hom stories te lees of te vertel, is van die beste maniere om hierdie sterk fondasie te help vestig.

Ons moet ons kinders ook help wanneer groot gevoelens soos woede, vrees en selfs vreugde hulle wil oorweldig. Probeer om in die goeie én die uitdagende tye met jou kind kontak te behou.

Ek sê altyd die gene of die DNS waarmee kinders gebore word, is soos die buitelyne van ’n inkleurprent. Hulle ervarings, omgewing en hoe hulle met ander mense omgaan, kleur daardie prentjie in. Wanneer ons kinders laat speel, geleenthede gee om probleme op te los, besluite te neem en met mense verhoudings te bou, vorm nuwe paadjies in hulle brein. Hoe meer hulle dit doen, hoe sterker word die breinpaadjies.

Aanmoediging ontwikkel die brein

Dink aan die brein as ’n spier: oefening maak dit fiks en sterk. As ’n brein gesond moet ontwikkel, is genoeg beweging en slaap noodsaaklik.

Gesonde kos speel ook ’n rol en verbeter jou kind se konsentrasie en energievlak. Wanneer kinders eet, is net so belangrik soos wát hulle eet.

Ontbyt moet eerder nie oorgeslaan word nie, want dit is die brandstof wat die brein aan die gang hou. As jou kind gemotiveer is om iets te doen en daarop fokus terwyl hy dit doen, leer die brein hoe om sekere dinge te doen. Pas hierdie beginsel toe wanneer jy jou kind motiveer om takies in en om die huis te verrig.

Kinders hou oor die algemeen nie daarvan om op te ruim, hulle borde kombuis toe te dra of tande te borsel nie. Ons doen dit makliker, want vir ons het hierdie aktiwiteite al outomaties geword. Dit kan help as jy alledaagse roetinetake vir jou kind prettig maak – dan word positiewe hormone vrygestel, die takies word sonder ’n gekerm en gekla gedoen en breinnetwerke word opgebou. Met die verloop van tyd sal dit outomaties gebeur.

Beklemtoon hulle goeie eienskappe

Ongelukkig is daar ook dinge wat die ontwikkeling van die brein negatief kan beïnvloed, soos toksiese stres. In plaas van dat nuwe konneksies vorm en vasgelê word, word hulle afgebreek en verminder.

Ons is almal gemaak om stres te kan hanteer en te verwerk, maar as die stres aanhou, word dit nadelig. Fisiese aanraking soos drukkies of ruwe spel soos stoei stel voelgoed-hormone vry in jou kind se brein, wat angs en stres verminder.

Druk jou kind teen jou vas, sit styf teen mekaar en vertel sy gunstelingstorie of sing ’n liedjie. Oorlaai jou kind met gerusstellende woorde en liefdevolle glimlaggies. Fokus op hulle positiewe eienskappe. Sê byvoorbeeld gereeld vir jou kind, “Sjoe, maar jy teken baie mooi,” of “Ek is trots op jou as jy jou speelgoed deel.”

As jy wil seker maak jou kind se brein ontwikkel gesond, bou aan ’n sterk ouer-kind verhouding, skep ’n koesterende omgewing waarbinne jou kind nie te veel stres ervaar nie en maak seker daar is mense in hulle lewens met wie hulle betekenisvolle verhoudings kan bou.

Lizanne du Plessis, ouerskapkenner