Henriëtta Gryffenberg: Teleurstelling het my gevorm

0
70
Henriëtta Gryffenberg

Teleurstellings in jou lewe is ’n manier waarop jy gevorm word. Henriëtta Gryffenberg het geleer dat jy dit kan aanvaar en groei, of kwaad word en agterbly.

Teleurstellings in jou lewe is ’n manier waarop jy gevorm word. Henriëtta Gryffenberg het geleer dat jy dit kan aanvaar en groei, of kwaad word en agterbly.

As ek terugkyk op my beroep, voel ek ek was nooit regtig suksesvol as aktrise nie. Dit was oukei, maar ek was nooit regtig in aanvraag nie. Sonkring was natuurlik ’n baie suksesvolle reeks en ’n hoogtepunt in my loopbaan. Tot ek die dag gehoor het my karakter gaan sterf… dit was asof my wêreld as jong aktrise in duie gestort het. Hier dink ek heeltyd ek was ’n aanwins, net om die volgende oomblik dít te hoor. Maar nou ja, ek het groot gesterf, al was ek net in twee reekse.

Dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe. As ek aan die reeks dink, was dit eintlik maar Anna-Mart van der Merwe en Chantell Stander wat myns insiens regtig daarna uitgeblink het in hulle loopbane. Intussen doen ek een oudisie ná die ander, maar kry nie werk nie. Vandag kan ek daaroor praat, maar as jy jonk is, is hierdie teleurstelling baie moeilik om te verwerk.

Ek onthou hoe ek eendag saam met ’n ander aktrise vir ’n oudisie gegaan het. Sy was toe die next big thing en het die rol gekry. In my hart was daar net jaloesie… ek kon nie in die diepte van my hart bly wees vir haar nie, want dit was ten koste van myself. Dit was vir my bitter moeilik om vrede te maak met al die emosies wat ek op daardie tydstip ervaar het.

Toe kom skryf op my pad. Om draaiboeke te skryf was ’n manier om uiting te gee aan die aktrise binne my. En ek is suksesvol: Erfsondes het byvoorbeeld vyf seisoene gehou en baie toekennings oor die jare gewen. Ek werk ook aan ’n reeks, High Rollers, wat op SABC 3 uitgesaai word. Vandag is ek bly ek het nie so goed gevaar as aktrise nie. Dis vir my veel lekkerder agter die skerms, waar ek myself in my karakters se skoene kan stel.

Op 50 kyk ek terug en besef ek was bloot nie reg vir daardie rolle nie. Wanneer jy in die situasie is, neem allerhande ander gedagtes oor – almal is teen my, ek is nie goed genoeg nie, my vriende hou nie meer van my nie. Jou kop is vol sulke conspiracy thoughts. As vervaardiger van reekse weet ek deesdae egter dat hulle ’n spesifieke voorkoms gesoek het. Ek moes dit nooit persoonlik opgeneem het nie. As ek nie daardie teleurstellings verwerk het nie, sou ek waarskynlik nooit die hoogtes bereik het wat ek behaal het nie.