Het ek regtig ’n papsmeer nodig?

0
461
papsmeer.jpg

’n Papsmeer is ongemaklik en maak inbreuk op jou privaatheid… maar dis die beste wapen teen servikale kanker.

’n Papsmeer is ongemaklik en maak inbreuk op jou privaatheid… maar dis die beste wapen teen servikale kanker.

In die 75 jaar wat die Papsmeer al bestaan, het dit bekend geword as die mees suksesvolle toets ooit om abnormaliteite in die liggaam op te spoor. Tog is servikale kanker steeds die derde mees algemene vorm van kanker onder vroue in Suid-Afrika en sterf sowat 3 000 elke jaar daaraan. Vals positiewe resultate plus die ongemak van die prosedure kan vroue afskrik om die toets te ondergaan.

ʼn Virus waarvan jy nie weet nie

As jy seksueel aktief is, staan jy ’n amper 80% kans om die menslike papilloomvirus (MPV) op te doen. Dit is ’n virus wat algemeen op ’n mens se vel voorkom en versprei deur regstreekse vel-tot-vel-kontak en veral deur middel van seks.

Die gevaar van hierdie virus is dat jy dit kan hê selfs al het jy jare gelede seksuele kontak met ’n persoon gehad wat ook die virus het. Baie vroue weet trouens nie eers dat hulle dit het nie omdat die virus gewoonlik geen siektesimptome veroorsaak nie.

Daar is meer as 100 verskillende tipes MPV. Sommige veroorsaak genitale infeksies terwyl ander vratte oral op jou lyf tot gevolg kan hê, ook aan die genitalieë. Die gevaarlikstes egter is die twee tipes wat servikale en ook ander tipes kanker kan veroorsaak. Daarom plaas dokters soveel klem op gereelde Papsmeertoetse.

Waarom ’n Papsmeer so belangrik is

As jy langer as ses maande die MP-virus dra, kan dit abnormale selle in die serviks veroorsaak wat tot kanker kan lei. ’n Papsmeer kan dié selle opspoor lank voordat dit kankeragtig word. Dit toets egter nie vir die virus self nie.

Inentings teen MPV is sedert verlede jaar in Suid-Afrika beskikbaar. Volgens Kansa het dit die potensiaal om eendag servikale kanker heeltemal uit te wis. Die Departement van Gesondheid beveel aan dat kinders vanaf 9 jaar en ouer die inenting kry. Ouer mense kan ook daarby baat vind omdat dit toekomstige infeksies kan voorkom. Die entstof help ongelukkig nie as jy reeds MPV-infeksies het nie.

Die Suid-Afrikaanse MPV-adviesraad beveel aan dat vroue elke jaar ’n Paptoets te laat doen sodra hulle die ouderdom van 21 bereik of seksueel aktief raak. Ná 30 kan jy dit verminder na elke drie jaar as jy drie normale resultate van jou Papsmeer gehad het.

Totsiens Papsmeer, hallo urinetoets?

Dit is nog ’n bietjie vroeg om die Papsmeer amptelik vaarwel toe te roep, maar in die toekoms kan ons dalk hierdie ongemaklike ondersoek met ’n eenvoudige urinetoets vervang. Studies deur navorsers in Brittanje en Spanje ondersoek tans die effektiwiteit daarvan.

*Bronne: www.womenshealthspecialists.org; www.cansa.org.za; www.everydayhealth.com; www.education.gov.za