Het jou gesin ’n digitale grondwet?

182

Net soos ons vir ons kinders die regte maniere vir elke situasie leer, moet ons hulle ook leer wat aanvaarbare, veilige gedrag in die kuberruim is.

Dit is moontlik die eerste keer dat jy van ’n digitale grondwet hoor. Dis ’n lys reëls wat jou en jou gesin herinner aan die beginsels wat vir julle belangrik is en hoe julle dit in die kuberruim uitleef.

Gebruik gesinswaardes as basis vir die kontrak

Elke gesin het reëls. Julle het dalk besluit om altyd die waarheid te praat. Om mense en diere met respek te behandel. Om suiwer taal te gebruik en julle woord te hou.

Dieselfde waardes moet geld wanneer ons met mense op digitale platforms kommunikeer.

Daarom is respek vir mekaar en vir ander ononderhandelbaar. Dink mooi voor iets êrens geplaas word. Is dit wat ek nou wil sê, die waarheid? Is dit absoluut nodig om dit te deel? Is dit inspirerend of afbrekend?

Dit is goed om ’n lys riglyne op te stel wat almal kan raadpleeg as hulle twyfel oor die beste manier om op te tree. Dit sal nie net jou gesin veiliger hou nie, maar ook goeie maniere oor die algemeen aanmoedig.

Stel ’n paar basiese digitale reëls op

Daar is basiese riglyne wat vir alle gesinne kan geld. Julle kan byvoorbeeld ooreenkom om geen private inligting, soos adres, telefoonnommers, naam van skool, ID-nommer ensovoorts, uit te gee nie.

Verduidelik dit so aan hulle: Geen inligting wat jy nie normaalweg vir ’n vreemdeling op straat sal gee, mag gedeel word nie.

Julle het die reg om julle kinders in die kuberruim te beskerm. Kinders mag egter ook van ouers verwag om hulle ruimte op die verskillende platforms te respekteer. Beskerm hulle, maar moet hulle nie in die verleentheid stel nie. Onthou, dit wat julle op sosiale media kwytraak, kan hulle weerloos en skaam laat voel.

Verder is dit belangrik om die reëls te volg van die sosialemediaplatforms waarop julle werk en die bepalings en voorwaardes te ken. Kry ook die nodige sekuriteit gereed om julle oë, ore, gedagtes en harte te beskerm teen dit waaraan julle blootgestel word.

Kom ooreen om slegs foto’s wat julle goed laat voel, te plaas. Dus geen vernederende foto’s van gesinslede nie. En beslis géén kaalfoto’s nie!

Hoe benader jy jou kind met hierdie versoek?

’n Vriendelike gesprek met jou kroos kan wondere verrig. Vra gerus ouer kinders se insette. Wees oop vir almal se voorstelle om julle grondwet persoonlik en van toepassing op julle gesin te maak. Dit sal daartoe lei dat hulle die idee aanvaar en sal saamwerk.

Druk ’n kopie van julle persoonlike grondwet, laat almal dit onderteken en raam dit sodat julle maklik daarna kan verwys.

En natúúrlik sal hierdie ooreenkoms van julle as ouers verwag om self die reëls te volg.

As julle ’n reël het dat geen elektroniese toestelle aan tafel toegelaat word nie, kan die “dringende” WhatsApp oor ’n werksaangeleentheid maar wag. Julle konneksie met mekaar is belangriker as die konneksie met die Wi-Fi!

 

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.