Het julle ’n huweliksplan?

0
16
huweliks_plan.jpg

Elke suksevolle besigheid word volgens ’n duidelike plan bestuur. Elkeen in die besigheid weet wat die doelwitte is en het riglyne om daarby uit te kom. Jou huwelik kan ook so werk.

As julle gesels oor wat elkeen uit die verhouding wil hê en ’n plan uitwerk om daarby uit te kom, hou dit julle verhouding op koers. Paartjies wat uitmekaar dryf, het dikwels nie gesamentlike doelwitte nie.

Mense wat trou, glo dat hulle nugter is oor die huwelikspad wat voorlê. Daarom hoor jy hulle sê: “Die huwelik is harde werk!” En “ … ons gaan dit maak werk!” Tog is dit dieselfde mense wat teen ’n tempo van 5 en 6.6 uit 10 skei. Dit wys dat hul uitsprake op illusies gegrond is. Want …

  1. … wanneer jy hulle vra hoe hulle aan die verhouding gaan werk, weet hulle nie regtig hoe dit prakties gedoen moet word nie. Hoewel hulle op ’n rasionele vlak toegee dat ’n huwelik werk vra, voel dit op ’n emosionele vlak asof ’n definitiewe plan nie by ’n verhouding pas nie. As ons lief is vir mekaar moet dit tog vanself werk. Daarom praat hulle net van ’n plan.
  2. … as hulle dan wel ’n plan opstel, is dit nie prakties nie – iets wat in ’n dagboek geskeduleer kan word. Dis eerder algemene beginsels. En die meeste egpare het geen idee hoe om beginsels prakties toe te pas nie.
  3.  … meeste huweliksplanne fokus nie genoeg op die onderhoud van die verhouding nie. Om ’n gesonde huwelik te bou, vra spesifieke idees om die verhouding te diens. Dit gaan nie oor of julle huis wil bou of kinders wil hê nie. Navorsing oor langtermyn-huwelike wys dat sulke paartjies duidelike verhoudingsdoelwitte en -strategieë het waarvolgens hulle die verhouding deur al die seisoene van ’n huwelik bou en herbou. “Ek is al deur 21 huwelike. Want in die 21 jaar wat ons getroud is, het ons elke jaar ’n nuwe huwelik gebou, ” was een ou se woorde.
     

Ons het mekaar iewers langs die pad verloor

Na twaalf redelike gelukkige jare het Nic en Tersia besef dat hulle uitmekaar gedryf het. Hulle het nie meer gedeelde drome en doelwitte gehad nie. Nic het gevoel Tersia is meer besorg oor die kinders as oor hom, terwyl sy gemeen het sy speel tweede viool teenoor sy werk.

[pagebreak]

Beplan om julle huwelik weer op koers te kry

Hulle het rustig gaan sit en gesels. Albei het die behoefte gehad om meer tyd by mekaar deur te bring.

Voor die kinders het hulle dit geniet om saam muurbal te speel. Hulle het ooreengekom om weer een maal ’n week muurbal te speel.

Nic sou dit in sy dagboek skeduleer, terwyl Tersia ’n oppasser sou reël. Hulle sou een keer per maand die kinders by vriende los en ’n date night hê. Elkeen sal om die beurt die verantwoordelikheid vir die reëlings hê.

Tersia het onderneem om Nic te ondersteun en te verstaan as hy soms moet laat werk in ruil vir ’n twee weke lange vakansie.

Na slegs agt maande het albei vertel dat die band tussen hulle verstewig het.

“Dit was maklik om die plan op te stel, want ons voel dieselfde oor al die punte en is vasberade om hierdie huwelik na die beste van ons vermoë te laat werk,” het die twee ná die oefening gesê. “Om ons doelstellings swart op wit te sien, was sinvol omdat dit ons net weer bewus gemaak het van die punte waarop ons in ons huwelik moet konsentreer.”

Pasgetroudes benodig ook ’n plan

Ferdi en Colene is onlangs getroud. “’n Mens moet elke dag dinge hanteer soos dit na jou kant toe kom en nie volgens ’n vooropgestelde plan nie,” glo hulle. “Tog kan dit seker goed wees, want soms vergeet ’n mens wat jou doelstellings aanvanklik was. Dit sal ons weer herinner wat ons besluit het belangrik is in ons verhouding.”

Met voorbehoude ten spyt in hul agterkop het hulle nogtans aan die werk gespring en met dié plan vorendag gekom:

  • Praat met mekaar oor alles (goed of sleg) en moet nooit dit wat jy op die hart het opkrop tot môre nie.
  • Ondersteun mekaar in elkeen se onderskeie projekte.  
  • Wees altyd eerlik met mekaar al is dit hoe moeilik.
  • Komplementeer en respekteer mekaar op alle vlakke en in alle omstandighede.
  • Begin so gou moontlik met ’n gesin.  
  • Gun mekaar die nodige ruimte, want elke mens is uniek. Dis ongesond om so afhanklik van mekaar te raak dat jy nie sonder die ander een kan funksioneer nie.
  • Vertrou mekaar honderd persent.


Herhinner mekaar aan julle voornemens

Die gevaar bestaan dat dié voornemens net mooi woorde op papier kan bly. Daarom het Ferdi en Colene besluit om die lysie op hul yskas vas te sit. “Sodat ons onsself elke dag daaraan kan herinner. Ons is ook van plan om openlik met mekaar te wees en te gesels as ons in enige stadium van die doelwitte afwyk.”

Hulle wil by dié plan hou, want oor tien jaar moet hul huwelik nog lyk soos dit nou is: vol opwinding, humor en waardering vir mekaar.