Het julle verleer om vriende te wees?

261
Gretha Wiid
Gretha Wiid

Die paartjie in die restaurant staar in stilte, gesels niks, tik net op hulle fone. Dis ’n bekende prentjie vir ons almal.

Ons weet hoe maklik dit is om in ’n verhoudingsgroef te verval – roetines, uitdagings, kinders, oorlewing, rekeninge, letterlik: opstaan, werk, oorleef, eet, slaap en herhaal. En voor jy jou kom kry, is julle een van die paartjies wat nie meer lag, pret het of die vermoë het om daardie vriendskapsoomblikke te beleef nie.

Dis belangrik om mekaar se teenwoordigheid te geniet

’n Huwelik waar dit nie meer lekker is om by mekaar te wees nie, word noodwendig oor tyd ’n huwelik wat swaar trek. Ons kan nie net by mekaar wees omdat ons gesamentlike uitgawes het, kinders deel, verpligtinge het en ringe aan ons vingers het nie.

Jy moet jouself vandag vra hoekom jy en jou maat saam is. Stop, lees dit weer en dink! Is dit julle verbondsbelofte, is dit die kinders, ’n vaste wete dat julle mekaar liefhet en nodig het, blote gewoonte?

Daar is niks verkeerd met enige een van hierdie redes nie – dit alles hoort immers in elke gesonde huwelik. Maar die beste egpare kan ook getuig dat hulle steeds by mekaar is omdat hulle mekaar se vriend is en die lewe saam lééf! Julle moet besef dat die dinge wat ons nou laat rondjaag op ’n dag verbygaan. Dalk sal meer paartjies dan fokus op die lag, gesels en vriendskap tussen hulle.

[Mentorklas VIDEO] Wees getroud met jou beste vriend

Begin by die begin toe julle altyd saam wou wees

Dit klink dalk nie maklik om net die drade op te tel en weer beste vriende te wees as julle al lank in die groef van gewoonte vasgeval het nie. Tog was daar ’n tyd wat julle regtig saam gelag het en uitgesien het om te kuier en by mekaar te wees.

Julle het ongetwyfeld sakke sout saam opgeëet; herinneringe wat jou met heimwee laat terugverlang. Vandag wil ek jou uitdaag om by daardie punt te begin.

So sinneloos as wat dit klink, kan dit wonders doen om deur julle foto’s te gaan, of ’n lang lys te maak van wonderlike oomblikke, dinge wat julle laat skaterlag het, gesteelde soene, die spesiale dinge wat julle aangevang het, die romanse… dit alles hoort op jou lys.

As jy tans op ’n slegte plek in jou verhouding is, mag jy dalk dink dis simpel en sal nie help nie. Maar goeie herinneringe en die wete wie julle was, gee hoop.

Hou julle tyd saam lig en laf

Ons gryp maklik na sosiale media en TV om ons te vermaak en te laat ontspan, maar julle kan meer doen as dit. Julle kan dit dalk oorweeg om Gary Chapman se PraatSaam-pret vir Hom en Haar aan te skaf en met die hulp van hierdie maklike kaartjies weer oor die heel lekkerste en simpelste dinge te gesels.

In die meeste huwelike het ons vriende, kinders en skinderstories nodig om die gesels aan die gang te hou en as ons weer kyk, ís ons daardie paartjie wat net in stilte sit en staar in die restaurant.

Gretha Wiid, huweliksgroei, seksualiteit en tieners

Kliek hier vir meer oudios, videos en artikels deur Gretha.

Gebruik die afslagkode GRETHA om die ouerskappakket LYFSLIM VIR MEISIES te koop op voelgoedboeke.co.za. R119 R169