Het jy ‘n stilwordplekkie?

Ek jaag op en af van die een plek na die ander, storm van die een ding na die volgende en kom nie regtig tot stilstand nie.

Ek lees net vinnig ‘n stukkie in my Bybel en rammel drie sinnetjies in gebed af en raak nie regtig stil by die Here nie.

Stadig, maar seker, begin dit my inhaal, raak ek onrustig, begin ek nagmerries kry, raak kleinighede grotighede, raak ek gespanne, kan ek myself nie meer in toom hou nie.

‘n Vriendin vertel dat sy aanmekaar die prentjie in haar kop kry dat sy onder ‘n waterval staan, sopnat, en nie daar wil uitklim nie. Die waterval hou haar veilig. Ek weer, voel of ek wil vlug. Ek wil weghardloop. Waarheen, weet ek nie, maar ek moet iewers heen.

Ek ry see toe en raak kalm. Maar dis nog nie genoeg nie.

Ek raak weer rustig by God se voete. Ek praat my hart teenoor Hom uit. Ek begin sommer die Psalms van vooraf deurlees en onderstreep woorde, omkring sinne, skryf in my Bybel, reageer in gebed. En God sê vir my, dis reg, Hy is hier, Hy is by my.

Sondag gaan stap ek sommer net ‘n lang ent langs die see met my honde en gaan sit vir baie lank op ‘n sandduin en kyk vir die branders wat breek, vir die seevoëls wat in ‘n netjiese formaat verby vlieg, vir die visserman wat staan en vis vang. Ek hoor niks anders as die see en God wat hier by my is nie. Ek sit daar totdat ek versadig is en stap rustig huis toe.

Die vlug is weg. Die behoefte aan weghardloop vergete.

Want my stilte vind ek net in Hom.

Het jy so ‘n stilwordplekkie? Het jy ‘n plekkie waar jy jou hart teenoor God kan uitstort, waar jy kan sit en vol word van Hom sodat daar rustigheid in jou hart kom? Doen moeite en kry vir jou so ‘n plekkie, dis die moeite werd.

Groetnis

Toortsie