Het mense in hierdie wêreld almal dieselfde waarde?

366

Mag ons mense se waarde skat? Hulle waarde hang af van geld, status en vooroordeel.

Een van die beste voorbeelde hiervan kry ons in privaat hospitale. Daar word lewens slegs gered as die geld reg is.

Omdat ek met ’n dominee getroud is, het ons darem ’n goeie mediese fonds. Nou die dag is ek in die hospitaal vir ’n operasie aan my enkel.

Laat een nag lui ek die klokkie, want die pyn was erg. ’n Ouerige verpleegster kom effens kruppel by my kamer ingestap.
Sy sê haar voet is so seer, sy weet nie hoe sy die volgende paar weke se skofte gaan maak nie. Haar operasie is eers volgende maand, in Kalafong. Toe gee sy my ’n duur inspuiting en stel die lugreëling ’n bietjie laer. Fantastiese diens!

As student het ek met ’n stokou, geroeste blou karretjie net groter as ’n Mini gery, ’n Renault 5. Tot my groot frustrasie moes ek soos die meeste studente buite die hekke van die universiteit parkeer en ver stap tot by die fakulteit.

Op ’n dag breek my kar (weer). Gelukkig kuier Marina se pa-hulle by ons en hy leen my sy nuwe Mercedes. Net daar besluit ek, vandag parkeer ek binne, tussen die belangrike mense.

By die sekuriteitshek kyk ek stip voor my en wys met my hand vir die wag om oop te maak. Sonder om ’n woord te sê of ’n vraag te vra, laat hy my deur. Ek kon my selfbeeld voel groei.

Die volgende dag is my Renault weer “reg” en ek dink, net vir ’n proefneming, kom ons kyk of dit nie dalk weer werk nie. Ek stop voor die hek. Kyk stip voor my. Wuif vir die wag om oop te maak – met presies dieselfde gesigsuitdrukking.

Die volgende oomblik skrik ek my boeglam toe hy met sy knuppel teen die venster tik. “Wat dink jy doen jy?” raas hy, “julle moet buite parkeer!” Met “julle” het hy natuurlik bedoel “julle met die stokou karre”. My proefneming het bevestig dat dit in hierdie wêreld eenvoudig onmoontlik is om belangrik te wees in ’n geroeste Renault 5.

Ek het op ’n stadium in Indië gewoon. Ek was brandarm, heelwat armer as daardie dag by die hek van die universiteit.
Vir maande het ons klomp ouens onder ’n palmtak-afdak op die grond geslaap en onder ’n enkele kraan gebad. ’n Mens kan nie hier verduidelik in watter toestand die toilette was nie.

Maar ek het gou geleer hoe om nou en dan ’n bietjie beskawing en gemak te beleef. Ek het met die goedkoopste bus middestad toe gery en by die eerste vyfsterhotel ingestap.
Die blote feit dat ek ’n Westerling (wit) was, het my vrye toegang gegee, selfs al het ek kaalvoet opgedaag.

Al kon ek nie eens ’n eensterhotel bekostig nie, het die man by die deur my keer op keer soos ’n ryk man behandel.

Jesus was uniek, want Hy het nie hierdie speletjie gespeel nie. Inteendeel, Hy het gesê wie laaste is, sal eerste wees…

JACO STRYDOM is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.