Het net vroue skoonma-probleme?

0
76
skoonma.jpg

Is skoonma’s regtig so vreesaanjaend of is die vrese ongegrond? Vaughan Gardiner deel sy skoonma-stories.

Nog lank voordat daar enige sprake is van die sewe-jaar-jeuk of ’n dwalende oog is, moet jy jou man reeds met ʼn ander vrou deel. Sy ma. Die meeste vrouens wat ek ken het al in ’n stadium gewens hulle het met ʼn weeskind getrou net om hierdie soms ongemaklike verhouding te vermy.

Die eerste keer toe jy met haar kennis gemaak het, kan jy nog bitter goed onthou. Sy was nie eers die dag daar nie, tog het sy by julle aan die etenstafel kom spook. Jy’t heel middag angstig in die kombuis rondgekrap, gebak en gebrou, gegeur en gekrui.

Natgesweet het jy uiteindelik die skaapboud triomfantlik uit die oond gehaal en voor hom neergesit. “Mmm,” het hy gesê. En na ʼn paar koue met ʼn halfvol mond gevra: “Is hier Worcestersous op?” “Nee, hoekom?” Hier kom moeilikheid, het jy sommer dadelik geweet. “My ma sit dit altyd in,” het hy geantwoord. “En knoffel?” wou hy verder weet. Die res is net ʼn vae herinnering van te veel adrenalien en te min verstand. Daarna was alles wat skeefgeloop het haar skuld.

Jy probeer op jou tong byt

Van wanneer af is dit byvoorbeeld aanvaarbaar dat sy die linnekas in julle huis regpak? Of in jou kombuis oorneem, asof jy nie eers ʼn broodjie op jou eie kan smeer nie? En jou rose het nié luise nié, die enigste luis … Jy waag dit ook nie om vir haar te sê wat jy dink nie. Nie oor finansies nie. Nie oor gesondheid nie. Nie oor mode nie. Wat help dit tog, sy steur haar in elk geval nie aan wat jy dink nie? Sy’s reg, en basta!

Jy verduur haar bloot omdat jou man ook vir ʼn vreemde vrou moet “ma” sê. Dit is iets wat julle liewer nie bespreek nie. Min mans het die moed om te verduidelik hoekom die vis toevallig nét byt gedurende die naweek wat jou ma kom kuier … en hy per ongeluk vergeet het sy kom toe hy die deposito gaan betaal het … Jy vermoed ook hy gebruik humor om jou ma se kuiers te oorleef, want sy arsenaal is propvol skoonma-grappe.

Wat dink mans van skoonma

Vaughan Gardiner, wat ʼn hoofrol speel in Deon Opperman se Afrikaanse treffers-musiekblyspel, Lied van My Hart, kan nie aan ʼn enkele grappie oor skoonma’s dink nie. Beslis nie een wat op hom en sý vrou se ma van toepassing is nie. Hy het blykbaar niks om oor te kla nie, dankie, so lank hy haar so min as moontlik sien … “Grappie,” lag hy.

Vaughan kwalifiseer dalk vir versagtende omstandighede. Die man is maar kort getroud en is in elk geval besig om sy nuwe album self te skryf en vervaardig. Geen wonder hy sien net al sy skoonma se kaaspoffertjies en gemmerkoekies raak nie! Enige ander man sou lankal laat toets het of daar nie een of ander verdagte bestanddeel in is nie …

Wanneer ander mans om die braaivleisvuur probeer uitvind wie se skoonma die vinnigste besem het, sorg Vaughan seker dat hy lank aan sy tjoppie kou, niemand sal in elk geval sý storie glo nie. “My skoonma is iemand wat gelukkig, liefdevol en vriendelik is en my die heeltyd laat welkom voel wanneer ek by haar kuier …” Klink ook nie of hy eintlik saam lag oor ander mense se stories oor sondes met die skoonma nie. “Skoonma-grappies se rakleeftyd is lankal verby, miskien moet ek ʼn paar nuwes skryf.” Ons wag in spanning, Vaughan.

Vroue stamp gewoonlik met skoonma kop

Maar ten spyte van mans se oënskynlik anti-skoonma gevoelens, draai baie van hulle daardie einste vrou om hulle pinkies … (Nie dat dit is wat Vaughan probeer doen nie! Nee, hy is net regtig bevoorreg, sê hy.) Jy hoor dikwels dat daar gespog word met wonderlike skoonseuns, maar oor die skoondogter word daar selde lofliedere gesing. Hoe kry mans dit dan reg om hierdie ingewikkelde noodlot so gerieflik te omseil?

Eenvoudig. Hulle probeer nie om hulle skoonma te beïndruk of na te doen nie. As sy skoonma byvoorbeeld beter gras sny as hy, sal hy haar sweerlik elke naweek oornooi om dit te kom doen! En as sy lekker kosmaak, sal hy beslis haar drumpel deurtrap.

So, wees eerder bly oor die presente wat sy vir jou kinders aandra – dit laat immers jou begroting klop. En bestel so gereeld as wat jy kan van haar onverbeterlike sjokoladekoek, dit spaar jou die moeite om voor die oond te sweet en jou kombuis vuil te smeer. Luister aandagtig na haar raad en stem saam dat jou sitkamermeubels soveel beter lyk soos sy dit geskuif het … want voor jy jou oë uitvee, is jý daardie skoonma en sukkel jy om vrede te maak met die nuwe vrou in jou seun se lewe. En wanneer julle dan tot ʼn volgende keer groet, skuif die meubels terug en dra jou hare soos jy wil. Ten minste tot volgende keer …