Hettie Brittz se ouerskapstyl

0
335
hettie_brits.jpg

Hettie Brittz, ma van drie, erken dat ouerskap harde werk is, maar sê dissipline skep sekuriteit.

Wanneer ons kinders oortree, probeer ek…

doelbewus om hulle met selfbeheersing en waardigheid te dissiplineer. Ek is konsekwent. My reëls is duidelik en eenvoudig. Die kinders weet wat ek van hulle verwag. As hulle die reëls verontagsaam, praat ek nie baie nie; hulle word vasgevat en dan weet hulle om dit nie weer te doen nie.

Die grootste uitdaging wanneer ons kinders gedissiplineer word…

is die ouderdomsgaping tussen Idalise (15), Pero (13) en Simone (8). Met Pero moet ek streng wees oor hoeveel tyd hy voor die rekenaar deurbring. Dieselfde reëls geld nie vir Simone nie, aangesien sy nie in rekenaarspeletjies belangstel nie. Ek moet uit my streng ouerskapstyl uitbeweeg sodat my tieners onafhanklik kan raak.

Ek en Louis benader dissipline verskillend…

want ek is gemaklik met konflik en Louis vermy dit. Ek is die een wat die negatiewe gevolge moet skep as die kinders oortree, terwyl Louis hulle aanmoedig en prys vir hulle beste pogings. Ek doen gehaltebeheer en Louis sien die groter prentjie. Tussen die twee style kry die kinders die beste van twee wêrelde.

Kinders bereik veel meer wanneer hulle…

gesag onvoorwaardelik aanvaar. Dit is wat ek graag vir ons kinders wil leer. Dit is nie populêr in die postmoderne era nie. Om onder God se gesag te kan lewe, moet jy opdragte kan uitvoer waarvan jy nie hou nie. Jy moet kan ja sê al verstaan jy nie, en soms jou gemaksone kan prysgee.

Ons gesin se reëls is stroomop en daarom…

ervaar ons baie druk van buite. Ons kinders het nie onbeperkte toegang tot die internet nie. Idalise het nie ’n kêrel soos die meeste van haar maats nie. Sy het onlangs ’n foto op Facebook gesien van ’n vriendin en haar kêrel op haar bed en het verstaan hoekom ons nie dit toelaat nie.

Nee, dieselfde reëls geld nie vir almal nie…

want ons kinders se vaardighede verskil so dramaties dat die reëls daarby aanpas. ’n Goeie voorbeeld is hoeveel sakgeld elke kind moet kry; hulle sakgeld word gekoppel aan hoeveel verantwoordelikheid hulle bereid is om te aanvaar. Pero kry meer sakgeld, want hy wil begroot om sy eie toiletware, skoolgoed en klere te koop.

As ek sou moes kies tussen puppets of normale kinders…

sou die keuse van hulle ouderdom afhang. Agt jaar gelede, toe ons kinders jonger was, het ek vereis dat hulle absoluut gehoorsaam moes wees. Nou is twee van ons kinders al tieners en wil ek dit nie meer hê nie, want dit sal verkeerd wees as my vyftienjarige nie vir haarself kan dink nie.

Wanneer ek soos ’n kwaai ma voel…

gaan drink ek koffie saam met ou vriendinne! Ek voel baiemaal dat ek te streng is; dan praat ek my hart by hulle uit en kry objektiewe raad. Ons is soms te naby aan ons eie kinders, en wanneer ons verknoop raak, moet ons vriendinne hê om ons aan ons beginsels te herinner.