Hierdie pretrit word op eie risiko gebruik!

Onlangs besoek ek die pretpark by die skou. Ek en my metgesel neem foto’s, heel nostalgies en beïndruk met die flikkerende liggies en mooi musiek.

Die volgende dag is daar ‘n ongeluk. ‘n Waentjie val om en drie mense kry seer. Nooddienste is vinnig daar, die mense word die volgende dag uit die hospitaal ontslaan. Natuurlik is daar ‘n hewige en baie aggressiewe woordestryd in die plaaslike pers en op sosiale media. Die skou se bestuur word uitgetrap, mense word aangeraai om dit nie daar naby te waag nie. Dieselfde ritte wat ons as baie mooi, goed onderhou, netjies en kunstig opgeval het, word beskryf as stokoud, verwaarloos, gevaarlik, heeltemal te duur … mense word aangeraai om almal te dagvaar, van die man wat die kaartjies by die hek verkoop, tot die skoubestuur en die eienaar van die pretpark. Gits, het die liggies en musiek ons só erg verblind? Ons was dan daar!

Ek herkou daaraan. Ons hou van die gevaarlike ritte in die lewe se pretpark. Ons hou ook van baklei. Beskuldig. Verwyt. Wil altyd iemand voor die bors druk met ‘n kwaai wysvinger en sê: “Dis jóú skuld!” Ek neem nie verantwoordelikheid vir my besluit om op die potensieel gevaarlike masjien te klim nie.Dis nie my eie skuld dat ek die waarskuwings ignoreer het nie. Ek kyk die “eie risiko” deeltjie mis. Ek kyk net vas in die “pret” gedeelte. Maar as dit skeefloop – dan soek (en kry) ek iemand om te blameer.

Mense wat op geen manier betrokke is nie, ken skielik elke detail, en versamel ywerig nóg detail, gretig om elke grusame brokkie te glo en te versprei. Nog erger: baie mense wat self jare gelede, indien ooit, ‘n pretpark besoek het, praat met groot outoriteit oor die toestand van die ritte, die regsprosesse om te volg en wie nou eintlik die skuldige is. Hulle deel raad uit, en oordeel links en regs, fel en sonder genade.

Die slagoffers self? Hulle is doodstil, waarskynlik iewers besig om ‘n seerplek te versorg, te kyk hoe ‘n seer blou kol stadig groen en geel word en dan verdwyn, ‘n nagmerrie-oomblik te probeer vergeet, ‘n beseerde ledemaat versigtig weer te begin gebruik. As hulle gelukkig is, is daar ander wat hulp aanbied – ‘n salfie aansmeer, pleisters aandra, inhak vir daardie eerste treetjies op die wankelrige “nuwe” bene. Hopelik sal hulle iewers in die toekoms weer voor ‘n pretrit staan, na die mooi liggies en anderwêreldse musiek luister, en besluit om tóg weer te ry.

Vorige artikelBesluite wat jou lewe lig maak
Volgende artikelLiefde
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com