Hindernisse laat jou groei

0
640

Struikelblokke kan ons maklik pootjie. Dit steel ons lewensvreugde. Nogtans kan jy kies om op te staan en dit as ’n geleentheid vir groei te gebruik.

Mense wil graag self in beheer van gebeure in hulle lewe wees. Struikelblokke is dinge wat jou keer om dit te word wat jy kan wees of om te kry wat jy graag wil hê. Dit kan enigiets wees: jou man wat jou nie verstaan nie of ʼn kollega wat die slegte in jou na vore bring.

Dalk is dit armoede, want jy glo as jy meer geld gehad het, sou jy baie beter kon vaar. Jou gesondheid kan ook ʼn struikelblok wees omdat jy nie kan doen wat jy moet nie, want jy het fisies net nie die krag nie.

Sien uitdagings as geleenthede om te groei

Baie mense kyk terug op hulle lewe en is spyt dat hulle bang was om nuwe geleenthede aan te gryp. ’n Ware geleentheid gaan nooit gepaard met gemak nie – daar is eerder baie onsekerheid en ongemak betrokke. Mense se verskonings vir ’n “mislukte” en onvervulde lewe is dat hulle in die verkeerde dorp bly of in die verkeerde vriendekring is.

Al hierdie hindernisse was teenwoordig in my lewe. Ek het myself bitter jammer gekry toe ek jonk was. My ouers is geskei en ons was nooit ryk nie (my eie blindheid). Daar was ’n stadium dat ek amper my eie lewe geneem het net om my bejammerenswaardige punt te bewys. Toe word ek gered.

Ek is gered deur iemand wat positiwiteit in my lewe ingespreek het. Ek het geleer om na die struikelblokke as geleenthede te kyk. As ek vandag terugkyk, kan ek baie duidelik sien hoedat elke uitdaging my voorberei het vir wie ek vandag is en vir die werk wat ek doen!

Dis maklik om moeilike omstandighede as verskoning te gebruik, maar dit gaan eintlik daaroor dat ons nie genoeg geloof of waagmoed het om die lewe aan te durf nie. Ons plaas te maklik ons hoop op mense en wêreldse dinge. Dan kyk ons die groter prentjie maklik mis.

Sukses is om jou lewensdoel te leef

Wat jy vandag as ’n struikelblok beskou, is in werklikheid ’n geleentheid wat jou sekere vaardigheid of emosies gaan leer sodat jy ’n volgende geleentheid makliker kan bemeester. Wanneer jy daardie uitdaging oorkom het, kan jou storie gebruik word om ander wat in dieselfde situasie as jy vasgevang is, te inspireer om ook ʼn lewe van oorwinning te leef.

Met watter moeilikheid jy ook al worstel, weet dat jy soms terugslae gaan ondervind. Wanneer dit gebeur, is dit natuurlik om gefrustreerd en teleurgesteld te voel. Moenie tou opgooi nie. Kry wyse raad en hulp, en maak die nodige veranderinge.

Ware oorwinning oor die hindernisse in jou pad lê in die vrede wat jy kry wanneer jy besef jy is besig met JOU storie – om ’n getuie van die wonder van die lewe te wees! Daar is ʼn avontuur van oorwinning vir ons elkeen. Ongelukkig kies die meeste van ons om in die probleem en ongemak van die oomblik vas te kyk en uiteindelik die soete smaak van oorwinning mis te loop.

Gemak en weelde bou nie karakter nie

Die soetste herinneringe van die lewe is nie gemak, oorvloedige rykdom of sukses nie. Die mooiste herinneringe is daardie oomblikke dat jy waagmoed en geloof aan die dag moes lê om oor die hekkies op jou pad te spring, en met wysheid en afwagting die onbekende pad te stap. Die ervarings wat jou geleer het hoe om sukses ten spyte van verskillende uitdagings te behaal, is ’n waardevolle skatkis.

As die oomblik van waarheid aanbreek, moenie skrik vir struikelblokke nie, want dan gaan jy moontlik die geleentheid misloop om jou eie wonderlike reis te beleef.

Kies vandag om vrede te maak met ongemak. Dit vat dalk ’n rukkie, maar dink net aan die gevoel na die tyd as jy besef al het jy oor die eerste hekkie gestruikel, het jy opgestaan en met met vlieënde vaandels oor die volgende hindernis gekom.

Jannie Putter, mentor en motiveringspreker

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie Putter.