Hoe bestry ek selluliet?

805
Lyfsorg U7

Selluliet beteken nie dat ’n mens  oorgewig is nie. Verskeie faktore, soos vetselle,  bloedsomloop en bindweefsel speel ’n rol.

Ons bindweefsel bestaan meestal uit kollageen en elastien, wat ’n soepel ondersteuningsnetwerk onder die vel vorm. Dit is soos ’n visvangnet wat in die water oopgegooi is – as die openinge eweredig is, kan water makliker daardeur vloei.

Tussen dié “openinge” lê, onder andere, ons vetselle. Hulle is eweredig versprei, en die bloed en die limf kan geredelik daardeur vloei om suurstof en nutriënte na die selle te vervoer en gifstowwe te verwyder.

Wanneer die vetselle meer vet begin stoor, word hulle groter en klou aan mekaar vas. Dit benadeel jou sirkulasie, want die bloed in die limf kan nie vrylik vloei nie. Die bindweefsel en selle ontvang nie genoeg nutriënte en suurstof nie en gifstowwe en ekstra vloeistof bou op.

Vetselle word gestoor in vertikale silindriese kanale wat aan die vel en die dieper lae van die weefsel heg. Die vergrote vetselle begin boontoe druk en die bindweefsel, wat vas is aan die vel, trek ondertoe, wat daardie bobeenkuiltjie-effek van selluliet veroorsaak.

Help lyfroom of ’n serum werklik teen selluliet? Alhoewel daar baie effektiewe anti-sellulietprodukte, velsorg, massering en dry body brushing op die mark is, kan hulle slegs optimale resultate toon indien jy hulle met gesonde leefstylkeuses kombineer.

Drink baie water om jou sisteem te spoel, eet gesond om kalorieë laag te hou en bly aktief om sirkulasie te verbeter. Masseer lyfsorgprodukte in jou vel in. Dit help om sirkulasie te versnel en die vetselletjies beter te versprei. Dit stimuleer ook jou limfstelsel, wat baie na aan die veloppervlak is.

Janine Janse van Rensburg, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.