Hoe betroubaar dink ander is jy?

0
152
vertrou.jpg

Daar is ’n paar mense wat jy met jou lewe sal vertrou. Maar wat van jou? Kan ander op jou staatmaak?

Elke jaar maak jy dieselfde Nuwejaarsvoornemens. Hier teen Meimaand kom jy agter dat jy, nes die vorige jaar, nooit daarby uitgekom het om gereeld te oefen nie. En jy skuif dit weer tot onderaan jou lysie, vir volgende jaar…

So is dit telkens weer dieselfde storie. Jy lag eintlik al daaroor, want hoeveel vroue hou dan nou werklik by hulle voornemens? Maar eintlik is dit belangriker as wat jy dink.

Behalwe dat jy baie gesonder sal wees as jy oefen, is dit nie goed om beloftes aan jouself te maak en dit aanhoudend te verbreek nie. Hierdie kringloop vernietig stelselmatig die vertroue wat jy in jouself het.

Later begin jy dink jy het nou eenmaal nie die vermoë om enigiets deur te voer nie. En dit begin wys – almal om jou sien mos dat jy nie doen wat jy gesê het jy gaan doen nie. Dit veroorsaak dat hulle ook begin dink hulle kan nie regtig op jou staatmaak nie.

Nogtans, elke keer wat jy ’n belofte aan jouself maak en dit wél nakom, kry jy meer selfvertroue. Dan begin ander jou ook meer vertrou.

Stephen Covey verduidelik in sy boek, The Speed of Trust, dat jy nie altyd kan beheer wat jou kollegas of ander mense van jou dink nie, maar jy kan wel in ’n mate beheer hoe betroubaar hulle dink jy is. Jy kan kies om so op te tree dat jy meer geloof in jouself het, wat dan jou eie lewe en dié van ander positief sal beïnvloed.

Volgens Covey is daar drie belangrike elemente waarmee jy jou geloofwaardigheid kan verhoog. Hy gebruik die beeld van ’n getuie in ’n hofsaak. Dit is basies dieselfde dinge wat jou betroubaarheid as getuie sal ondersteun.

Die eerste twee, integriteit en motivering, het te doen met jou karakter. Wat is jou kernwaardes? Jy moet weet waarvoor jy staan en jy moet dit lééf, sodat ander dit kan sien. Die derde een behels jou kennis en vaardighede; dus hoe bekwaam jy is.

Jy moet elke dag met integriteit leef

Vir die meeste mense is integriteit dieselfde as eerlikheid. Met ander woorde, jy moet eerlik wees oor wat jy doen en hoekom jy dit doen.

Sorg dat jy in ooreenstemming met jou diepste waardes en oortuigings optree. Jou lewe, dit wat jy doen en sê, moet pas by wat jy glo. Walk the talk. Moenie jou van stryk laat bring deur die wêreld se opinies en idees nie. Die enigste stem waarna jy behoort te luister, is die stem binne-in jou.

Nederigheid is ook belangrik. Dit beteken nie jy moet minderwaardig wees en jouself dinge misgun nie. ’n Nederige mens is meer besorg oor wat reg is as oor om reg te wees. Jy gee dus nie om om iemand anders se goeie idee uit te voer nie. Jy hoef mos nie altyd al die idees te hê nie.

Gestel jy is betrokke by die vroueaksie van julle kerk. Jy het ’n voorstel gemaak vir die funksie wat julle wil hou, maar dit word afgeskiet. Nou is jy vies en besluit hulle moet dan alleen die werk doen.

As jy nederig is, wil jy eerder die span bou as om jou eie beuel te blaas. Jy sal die vrou wie se voorstel aanvaar is, gelukwens en jou volle gewig ingooi. Jy sal nie verwag om uitgesonder te word vir jou eie bydrae nie.

Wanneer jy dus met integriteit wil leef, moet jy die moed hê om altyd die regte ding te doen, al is dit hóé moeilik.

Lees ook: Hoe sterk is jou sesde sintuig?

[pagebreak]

Sorg dat die motivering vir jou optrede reg is

Motivering is die “hoekom” wat die “wat” motiveer. Hoekom reël jy die fondsinsameling? Is dit omdat jy regtig die oumense se belange op die hart dra of omdat jy raakgesien wil word?

Die beste motivering is omgee: omgee vir mense, omgee vir die groter doel, omgee vir die samelewing. As jy opreg is, sal jy graag wil hê die ander persoon moet wen. Natuurlik wil jy self ook slaag, maar jy soek eerder die beste vir elke mens. Almal is tog afhanklik van mekaar, so, as die een wen, wen almal!

Jy kan die beste bedoelings hê, maar as jou optrede nie daarby pas nie, help dit niks. Mense kyk na wat jy doen én hoekom jy dit doen, en dít bepaal of hulle dink jy is betroubaar en geloofwaardig. Ons is almal geneig om iemand wat só leef, makliker te glo en te vertrou.

Motivering is nie iets wat jy kan veins nie, want dit kom uit die hart. Ondersoek gereeld jou motiewe. Gaan kort-kort weer terug na die begin en stel vas wat jou in die eerste plek gemotiveer het om iets aan te pak. Besluit of dit die regte rede was en of dit nie ’n goeie tyd is om dit te verander nie.

Moenie aarsel om te sê wat jou bedoelings is nie. Partykeer het mense ’n wanindruk of hulle verstaan jou verkeerd. As hulle weet jy doen iets omdat jy regtig omgee, sal hulle voel hulle kan op jou staatmaak.

Slyp jou kennis en vaardighede vir goeie resultate

Ons het baie meer vertroue in bekwame mense. Jy sal tog nie met ’n ernstige kwaal na ’n dokter toe gaan as jy weet hy het toe nooit sy graad gekry nie. Dit help nie hy het integriteit en die beste bedoelings, maar hy verwyder jou blindederm in plaas van jou galblaas nie!

Vaardighede kan baie dinge wees: dit kan jou talente (jou natuurlike sterk punte en gawes), jou kennis en insig, jou unieke aanslag en jou persoonlikheid wees.

Covey sê jy moet probeer om die beste moontlike balans te kry tussen jou natuurlike aanleg, passies en vaardighede aan die een kant en die moontlikheid om geld daarmee te verdien en ’n verskil te maak aan die ander kant.

Hy stel voor dat jy jou sterk punte identifiseer en dit dan verder ontwikkel. Onthou, jy kan nie meer tevrede wees met ’n vierjaargraad nie, jy het eintlik nou ’n veertigjaargraad nodig. Met ander woorde, jy moet lewenslank leer.

Verwag om suksesvol te wees. Hoe meer jy verwag, hoe meer sal jy uiteindelik kry en hoe groter sal jou selfvertroue en jou geloofwaardigheid wees. Maar wees ook aanpasbaar, want die uiteinde kan dalk ’n bietjie anders lyk as wat jy verwag het – solank jy net heeltemal klaarmaak waarmee jy begin het.

Dus: Maak seker jy het die regte bedoelings. Wys dan jou goeie bedoelings deur jou optrede. Voltooi alles wat jy aanpak en jy sal ’n vrou wees op wie mense kan reken!

Verwerk uit The Speed of Trust deur Stephen Covey.

Lees meer: Oefen om reg te kla en te oorreed.