Hoe bly jy maer?

1094

Gewigsverlies met ’n kitsdieet is moontlik. Om dit nie weer op te tel nie is die groter uitdaging! Watter kos mag jy dan eet?

Balans is belangrik. Maak groente die grootste deel van elke ete.
Drink ’n glas water vir elke 10 kg wat jy weeg. Peusel aan vrugte, ’n handjievol neute en natuurlike joghurt. Stap of oefen elke tweede dag vir ’n halfuur lank.

So maklik – en so uitdagend! Om gewig te verloor en dit af te hou, hang veral af van die eetplan wat jy van nou af gaan volg.

’n Kitsdieet kan werk vir ’n rukkie, maar dit gaan jou nie maer hou nie. Ons almal ken dit.

Sodra jy stoom verloor met die min en selektiewe eet, begin die kilogramme op die skaal weer klim. Soms tel jy meer op as wat jy in die eerste plek verloor het.

Dink daarom realisties oor ’n nuwe eetplan. Kan hierdie manier van eet ’n leefstyl word? Die plan wat jy volg moet aanpasbaar wees vir tye wanneer dinge dol gaan.

Wees voorbereid op jou elkedagse situasies en verantwoordelikhede. Jou dieet moet jou genoegsame energie kan gee om deur jou dag te kom.

Alhoewel dit moeilik mag wees, is daar ’n paar goue reëls wat jy kan volg om jou gewig onder beheer te kry. Luister na jou liggaam. Jou liggaam vertel vir jou wat jy nodig het.

Kos moet jou beter laat voel en energie gee. Vergeet van dieetkonkoksies. Daar is regtig geen towerstaf wat jou vinnig maer gaan toor nie. Gewigsverlies vat tyd.

Kennis oor wat jy eet is meer werd as ’n eetplan teen die yskas wat nie goed nagevors is nie. Hou die groter prentjie in gedagte. Dink net hoe die 1 kg maandelikse gewigsverlies kan verander na 12 kg in net een jaar.
 

Carina Fourie, dieetkundige

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Carina.