Hoe ek strand-sexy lyk (sonder peperduur produkte!)

0
70
Natasha_Barnard.jpg

Natasha Barnard het oornag van die meisie van Witbank verander in die gesig van die gesogte Guess-advertensieveldtog. So, vertel sy, kan jy haar voorkoms kry.

Gebruik soutwater om jou hare te krul

Met fotosessies vir swemkalenders dra ek gewoonlik ’n natuurlike krul in my hare. Ons het die golwing in my hare in die Guess-advertensies gekry deur sommer gewone seewater in ’n spuitbotteltjie te gooi, dit aan my hare te sproei en dit dan vir ’n rukkie in ’n bollatjie vas te maak. As dit droog geword het en jy die bolla losmaak, het jy meerminlokke. Wat ek self doen om die effek sonder seewater te verkry, is om sommer met gevlegte hare te slaap.

Meng olie by verbronsingsroom vir ’n sexy vel

Op die strand wys jy meer lyf as op enige ander plek en die laaste ding wat enige mens wil sien, is ’n droë, skurwe vel. Vir my Guess-advertensieveldtog wat ons op Bora-Bora-eiland geskiet het, het ek ’n baie natuurlike voorkoms gehad met minimale grimering. Om die gloeiende effek op my vel te kry, het ons ’n kombinasie van lyfolie asook verbronsingsroom aangesmeer. Vaseline Vitalizing Body Gel Oil en Caribbean Tan Body Shimmer Cream werk goed vir my.

Vergeet naellak en dra jelnaels op strand of kampvakansies

’n Wenk wat ek vir die strand het, is om ’n jel-pedikuur en -manikuur aan jou naels te sit. Naelpolitoer hou net nie in die seewater en growwe sand nie. Met jel op, bly jou naels die hele vakansie mooi.

Geskryf deur Ryno Mulder