Hoe Facebook my van God se genade herinner

Daagliks herinner Facebook ons aan die memories van daardie dag oor die afgelope paar jare.

Wanneer ek na my herinneringe kyk laat van hulle ‘n glimlag op my gesig, waar ander dalk bietjie skaamkry aanwakker.

Sien, toe ek op universiteit was, was ek maar ‘n student. Ek was baie gereeld uit saam met vriende en het stereotipiese studente dinge aangevang waarop ek nie noodwendig trots is nie. Tog laat baie van die herinneringe ‘n glimlag op my gesig want wanneer ek daaraan dink onthou ek die wonderlike mense saam met wie ek die herinneringe gemaak het en wie ek vandag baie mis.

Soos wat ek op sommige dae deur die herinneringe gaan, word ek opnuut herinner aan God se genade. Ek word herinner hoe Hy al my impulsiewe keuses en foute wat ek gemaak het reeds vergewe het en dat ek ‘n nuwe identiteit in Christus het.

Dit laat my dink aan wat Joyce Meyer altyd sê:

“I’m not where I’m supposed to be, but thank God I’m not where I used to be.”

Deur ‘n wedergebore Christen te wees maak my beslis nie perfek nie, ek het steeds baie tekortkominge, maar hoe wonderlik is dit om te weet God het my lief ten spyte daarvan.

So vandag maak ek die beste van daardie Facebook memories, want hulle omhels my weer opnuut met God se genade.

Mag jy vandag besef dat God groter as enige slegte besluit of sonde van jou verlede is. Mag Sy warm liefde jou vandag omvou.

Seënwense,

Stephanie