Hoe gelukkig is jy met jou lewe?

750

Jy kry jou droomwerk. Koop ’n huis, koop ’n motor, trou met die regte man. Geluk is feitlik gewaarborg, maar iets ontbreek steeds. As die uitgewerkte lewensplan wat aan ons verkoop word, nie op die ou end vervulling bring nie, wat sal dan?

Lesersvraag…
“Ek het wonderlike kinders, ’n dak oor my kop, familie en vriende wat vir my omgee. Maar deesdae is ek só ongelukkig. Ek wil niks doen nie. Selfs om te lag is soos werk. Ek en my man het uiteenlopende persoonlikhede, maar ons het vrede gemaak daarmee. Hoekom kan ek nie gelukkig wees met wat ek het nie, wat tog baie meer is as wat ander mense het?”

SESSIE 1

Jou geluk is jóú verantwoordelikheid

Mense is soms bang om verantwoordelikheid vir hulle eie geluk te aanvaar, want dit beteken dat hulle niemand behalwe hulleself kan blameer as dinge skeefloop nie.

Jou man en kinders kan jou nie gelukkig maak nie; jy is ook nie vir hulle geluk verantwoordelik nie, net vir jou eie. As jy dit besef, word jy vry om voluit te kan leef.

Om gelukkig te wees is ’n proses, ’n nimmereindigende reis van ’n duisend keuses per dag. Moenie langer ’n slagoffer van jou eie negatiwiteit wees nie.

Ons is bang om kanse te waag, bang om te leef, want sê nou maar dit werk nie. Niemand is perfek nie; almal maak foute. As jy dit aanvaar, is die lewe dadelik makliker.

Elke mens is uniek geskape en word gebore met ’n temperament wat geneties bepaal word. Vanuit hierdie kern ontwikkel jou karakter en persoonlikheid. Dit beteken dat jy dalk wel jou ouma se vinnige humeur geërf het, maar ook haar sterk leierseienskappe.

Juis daarom is dit belangrik dat jy jouself moet ken en verstaan. Sodoende kan jy jou eie, natuurlike sterk en swak eienskappe ontdek en dan beter verstaan hoe jou swakhede oorwin kan word.

SESSIE 2

Hou op worry en begin leef

Om heeltyd te wonder wat ander van jou dink en sê, is nuttelose energieverkwisters wat jou geluk steel. Kies eerder om elke dag positief aan te pak.

Saam met die aanvaarding van jouself en ander moet jy ook besef dat jy nie almal tevrede kan stel nie. Jy kan ook niks doen om seker te maak almal hou van jou nie. Dit is nie moontlik nie.

Wees dankbaar vir wat jy het en moenie heeltyd dink aan wat jy nie het nie. Maak elke dag ’n lys van alles waarvoor jy dankbaar is en begin om die mooie te soek deur die dag. As jy in die spitsverkeer vassit, luister en waardeer mooi musiek en wees dankbaar jy het nog ’n motor.

Op dae wat alles neig om skeef te loop, soek steeds die goeie dinge. Onthou dat alles tydelik is; selfs daardie onderstebo, agterstevoor dae kom tot ’n einde.

As jy jou in moeilike omstandighede bevind, vertrou en hou aan glo dat alles sal uitwerk.

SESSIE 3

Sit jou emosies op hulle plek

Een van die grootste sondaars wat jou daaglikse geluk steel, is jou emosies. Leer om jou gemoedstoestand te beheer en perk negatiwiteit in.

Daar is nie fout daarmee om emosies te wys nie. Dit is hoe ons geskape is, maar as jy toelaat dat jou emosies oorneem, kan dit die lewe vir jou baie moeilik maak.

Ons is geprogrammeer om te oorleef, en daarom spring die emosies wat jou veg-of-vlug-reaksie beheer, die vinnigste weg. Die twee emosies agter hierdie toestand is woede en vrees.

Jy dink dalk jy sukkel nie met woede en vrees nie, maar dié twee boelies is die kern van die meeste negatiewe emosies wat jy kan beleef.

Woede skuil onder andere agter bitterheid, kritiek, skinder en sarkasme. Vrees is weer die basis van twyfel, eensaamheid en hoogmoedigheid.

As jy vrees voel of kwaad word, onthou, dit is slegs ’n gedagte. ’n Mens het die keuse en krag om positiewe gedagtes bo die negatiewes te kies. Die keuse is joune.

Dit is ’n voortdurende proses waarin jy doelbewus kies om met jouself te praat om sodoende die houvas van ’n negatiewe gemoed daagliks te oorwin.

SESSIE 4

Geluk hang baie af van jou vergenoegdheid

Die fokus val nie op wat jy besit nie, maar eerder op die feit dat jou lewe betekenis het en dat jy op ’n eenvoudige manier ’n bydrae lewer.

Dit sal help as jy jou dag reg begin. As die wekker lui vir opstaantyd, moenie dadelik dink aan alles wat jy dié dag moet doen waarvoor jy nie lus is nie.

Begin sommer met ’n “Dankie, Here” en kies dan om die dag met vreugde aan te pak.

As die dag regtig soos ’n berg voor jou lê, maak ’n lys van die klein goedjies waarna jy uitsien, soos jou eerste koppie koffie of jou gunsteling-TV-reeks wat uitgesaai word.

Daar kom slegte en pynlike tye in elkeen se lewe. Hoekom dit gebeur, is nie hier ter sake nie, maar wel hoe jy op die negatiewe gebeure reageer. Om altyd swaarmoedig te wees is ’n gewoonte. Net so is om gelukkig te wees ’n gewoonte wat jy kan aanleer.

Dit sal dalk aan die begin moeilik wees om dit reg te kry, maar as jy eers die lewe anders begin beskou, sal alle ander uitdagings makliker wees om te oorkom.

SESSIE 5

Leef voluit ten spyte van omstandighede

Geluk is ’n toestand van tevredenheid, aldus die woordeboek. Vir ’n gelowige is dit om vrede te hê om met oorgawe te leef ten spyte van omstandighede.

Die belangrikste is om te besef dis nie hoekom ’n ding gebeur nie, maar hoe jy daarop reageer wat uiteindelik die verskil maak, ook aan jou eie gemoedstoestand.

As kind was Josef ’n dromer en sy pa se witbroodjie. Dit verander alles toe sy broers hom verkoop. Daarna lyk dit asof die lewe hom net dwarsklappe uitdeel.

Jy kan jou gesindheid kies. Josef raak nie bitter of opstandig nie. Hy kry die geleentheid om wraak te neem op sy broers, maar hy doen dit nie. So kan ons ook kies om mense te vergewe en om voluit te leef, al het die lewe ons sleg behandel.

Wag geduldig vir die regte tyd. Josef was 13 jaar in moeilike omstandighede in ’n vreemde land vasgevang, toe word hy aangestel as onderkoning van Egipte! Dit vat soms jare, maar wees geduldig en hou aan glo en vertrou dat alles goed sal uitwerk.

Skool van die lewe, deur verhoudingskenner Lynette Beer