Hoe gemaak met kinders wat baklei?

0
745
justine_krige.jpg

Corné en Justine Krige se drie kinders kan goed baklei, soos kinders mos maak. Dis hoe sy dit hanteer.

Ons twee seuns baklei die meeste oor…

…Lego. Hulle sal begin deur saam te speel en te bou. Peter is baie netjies en sorteer sy Lego-blokkies gereeld. As John dan sy Lego deurmekaar maak en die kleure meng, word Peter baie kwaad. Dit eindig gereeld in ’n slanery. Ek het intussen vir Peter sy eie Lego-houer gekoop met ’n slot.

Ek probeer om nie die skeidsregter te wees nie…

…maar probeer om hulle te leer om dinge sonder hulle vuiste op te los. Omdat ons seuns baie aktief is, laat ek hulle fietsry om stoom af te blaas. John is die een wat uit sy eie vrede maak wanneer hulle baklei. Peter sukkel om jammer te sê. Ek moet hom maar aanpor om om verskoning te vra.

Sophia (9), ons dogter, se uitbarstings kom gewoonlik wanneer…

…sy tyd alleen nodig het. Sy is ʼn baie sosiale kind, maar sy hou daarvan om soms op haar eie te wees. As haar boeties haar dan pla, word sy baie kwaad. Ek probeer vir die seuns verduidelik dat sy net ’n bietjie alleen tyd nodig het en hulle verstaan dit gewoonlik.

Ek het agtergekom dat die kinders meer baklei as…

…hulle kompeteer vir my aandag. Ons kinders is nog jonk en hulle al drie soek heelwat aandag. Sommige dae is ek baie besig om John (7) en Sophia (9) rond te ry na hulle buitemuurse aktiwiteite, en dan sal Peter (5) onmoontlik raak. Ek probeer dan om ’n bietjie tyd alleen saam met hom in te ruim.

Lang motorritte is ʼn teelaarde vir groot gevegte…

…veral as die kinders honger en moeg is. Ons het besluit om liewer meer dikwels stil te hou sodat almal bene kan rek en iets kan eet. Elkeen kry ’n beurt om ’n DVD te kies. Dit help hulle om mekaar in ag te neem. Peter is die jongste en slaap darem ’n groot deel van ’n lang rit.

Ek besef dat alle boeties en sussies baklei, maar ’n ma moet…

…weet wanneer om betrokke te raak en wanneer om daaruit te bly. As John en Peter baklei en slanerig raak, los ek hulle gewoonlik, maar as ek sien dit raak te rof, gryp ek in. Peter is kleiner as John en ek laat nie toe dat die geveg handuit ruk nie.

Ek bewaar die vrede in die huis deur…

…gereeld saam te lag en te speel. Ons beste tye is wanneer ons iets prettigs saam doen. Sophia kan die oulikste rympies opmaak en dan sal John en Peter bylas en die lafste stories versin, en ons almal laat skaterlag. Sulke tye laat almal weer ontspan.

’n Manier om mekaar se punt in te sien…

…is om die kinders toe te laat om self aan oplossings te dink as hulle stry. Ons gee hulle ’n kans om met hulle eie antwoorde vorendag te kom. Die seuns deel ’n kamer; en as hulle stry, het Sophia al voorgestel dat sy vir ’n dag met een van hulle plekke kan ruil.