Hoe gemaak met rekmerke?

418

Elke vrou haat die lyntjies op haar lyf wat haar geskiedenis verklap. Verstaan wat jy sien en gebruik dié raad wat werk.

Weet jy waarna jy eintlik kyk? ’n Rekmerk is die agterkant van ’n wond wat diep binne die vellagies ontstaan. Jy skeur letterlik van binne na buite.

Jou vel rek deur verskillende fases van jou lewe. Gedurende puberteit, wanneer jy maer word, gewig optel, en tydens swangerskap beleef jou liggaam groot veranderinge. Dit gebeur boonop vinnig en met min tyd om aan te pas. Skielik moet jou vel rek of krimp en word dit onder geweldige spanning geplaas.

Klein skeurtjies begin vorm en wanneer hulle onder spanning bly, ontstaan inflammasie. Hiermee saam word ’n ensiem vrygestel wat twee van die proteïene wat noodsaaklik is vir gesonde velstruktuur, afbreek.

Jy verloor kollageen, wat verantwoordelik is vir gladheid en soepelheid. Jou elastien, wat die rekbaarheid van die vel bepaal, word ook al hoe minder. Die stukkende weefsel vorm dan later ’n tipe litteken. Dis hierdie litteken wat ons ken as ’n rekmerk.

Rekmerke ontwikkel nie bo-op waar jy dit kan sien nie. Dit ontstaan diep onder in die middelste lagies. Dit is hier waar elastisiteit so belangrik is. Dit maak dit moontlik dat jou vel kan rek en terugkeer na normaal sonder skade en sonder spanning.

Behandeling moet daarom ook diep van binne plaasvind. Gebruik produkte wat vinnig geabsorbeer word en nie net bolangs bly lê nie. Dit sal jou oorblywende kollageen en elastien help om inflammasievry te bly vir so lank moontlik.

Drink genoeg water, eet baie groente en vrugte, behou ’n gesonde gewig en wend ’n geskikte vogroom aan wat spesifiek omega-olies bevat. Hierdie essensiële vetsuur kom natuurlik voor en word maklik geabsorbeer tot daar waar dit saak maak.
 

Janine Janse van Rensburg, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.