Hoe goed luister jy na jou kind?

0
81
oulike_ma_1.jpg

Tieners wil graag op ’n positiewe en gesonde manier met hul ouers kommunikeer. Luister só na jou kind.

Sommige kinders praat op uitnodiging, ander het meer tyd nodig om oop te maak. Daar is ook kinders wat voel soos Bianca (16) van Tzaneen: “Elke keer as ek met my ma probeer praat, preek sy vir my of skree op my voor ek die hele storie vertel het. Ek sal makliker oopmaak as sy my die geleentheid gee en regtig luister.”

Hoe goed luister jy na jou kind? Beantwoord die volgende vrae om vas te stel:

1. Hou jy dadelik op met waarmee jy besig is wanneer jou kind wil praat? JA NEE SOMS
2. Herhaal jy wat jy dink jou kind gesê het net om seker te maak jy verstaan reg? JA NEE SOMS
3. Bied jy maniere aan vir jou kind om met jou te “praat”, soos sosiale media, SMS’e of eposse? JA NEE SOMS
4. Moedig jy jou kind aan om later weer met jou te praat deur te sê jy is daar om te luister as sy jou nodig het? JA NEE SOMS
5. Vou jy jou arms voor jou bors en val jy jou kind dikwels in die rede terwyl jy na haar verduidelikings luister? JA NEE SOMS
6. Wanneer jou kind met ’n probleem na jou toe kom, staan jy al gereed met ’n oplossing nog voor sy klaar gepraat het? JA NEE SOMS

 

Dís hoe jy moet luister

As jou antwoorde op die eerste vier vrae JA en die laaste twee NEE is, is jou kind baie gelukkig om ’n ouer te hê wat werklik hoor wat sy sê. As van jou antwoorde SOMS insluit, moet jy aan jou luistervaardighede werk. As jou antwoorde daarop dui dat jy jou kind nie die geleentheid gee om te praat nie, is dit nóú die tyd om iets daaraan te doen.

1. Gee jou volle aandag

Ons almal is so besig dat jy sukkel om êrens ’n oomblik vir jouself te hê, maar dis nie nou die tyd vir multitasking nie. Sit die televisie, die koekklitser en jou selfoon af – wat dit ook al is wat om jou aandag meeding. Kyk na jou kind wanneer sy met jou praat.

2. Weerspieël haar emosies

Tieners wil graag hulle gevoelens op jou gesig sien. Dit wys jy verstaan hoe hulle voel. Moet nooit met haar emosies spot nie. En as haar emosies met haar weghol, onthou, haar wêreld is baie kleiner as joune en dit laat elke gebeurtenis baie groter lyk.

3. Herhaal wat sy gesê het

Veronderstel jou dogter vertel vir jou hoe haar kêrel met haar beste vriendin geflirt het. Sê dan: “So, wat jy vir my sê is dat jy regtig seergemaak gevoel het toe Divan vir Jenny geglimlag het soos hy gewoonlik vir jou glimlag?” Só wys jy dat jy verstaan wat sy gesê het.

4. Laat jou liggaamstaal praat

Moenie sug, jou arms voor jou bors vou of jou oë dak toe rol nie. Sit gemaklik oorkant jou kind, leun effens vorentoe en knik instemmend. Jou tiener is dalk jonger as jy, maar is nie onnosel nie. Sy sal weet as jou liggaamstaal sê jy het nie lus om na nonsens te luister nie.

5. Besluit om geïnteresseerd te lyk

Dit kan moeilik wees om na ’n lang dag by die werk na ’n tiener te luister wat oor skynbare nietighede met jou wil praat. Herinner jouself daaraan dat jy eintlik geïnteresseerd is in jou kind. Hoe meer aandag jy skenk en vrae vra, hoe interessanter sal haar lewe vir jou word.

6. Luister na haar aksies

Wanneer jou tiener deure begin toeklap, moet jou nie blind of doof hou nie. Sy wil hierdeur vir jou sê dat iets verkeerd is en dat sy wil praat, maar dalk nie weet hoe nie. Vra haar uit daarna. Moet egter nie ’n gesprek afdwing nie. Sy sal praat wanneer sy reg is.

7. Maak gebruik van eerlikheid

Tieners sal soms uit die bloute hulle hart met jou deel. Wanneer sy dit doen, moet jy vir haar genoeg tyd gee om alles te vertel wat op haar gemoed lê. Vra: “Wil jy hê ek moet net luister? Of wil jy graag my hulp en voorstelle hê?”

Toe ’n groep tieners tussen die ouderdom van 13 en 17 uitgevra is oor wat hulle pla, het hulle gesê hulle wil graag meer met hulle ouers kommunikeer. Jou tiener wíl dus met jou praat; jy moet net daar wees om (op die regte manier) te luister. Onthou ook dat die plek waar julle gesels, die verskil kan maak tussen kommunikasie en konsternasie! Kies ’n plek waar julle aandag nie afgelei gaan word nie en waar jou tiener veilig voel.

Vertaal en verwerk uit Sticking With Your Teen (Joe White) deur Leana Cronjé.

Lees meer: 5 geheime: laat jou kind só luister