Hoe groot is jou vliegtuig

Die vliegtuig was ver in die lug. Dit was kleiner as sy handjie… ’n paar dae later het sy pa hom vliegveld toe gevat. Die boeing was reusagtig.

Hy het bewonderend na die vliegtuig gekyk. Baie verbaas toe sy pa hom vertel dat dit dieselfde vliegtuig is as die een wat in die lug was. Dieselfde vliegtuig. Die afstand die verskil.
As God vir jou ver is, sal Hy altyd klein bly. Hoe nader jy aan hom beweeg, hoe groter word Hy….

Hierdie beeld word een Sondag by die graskerk gebruik. Dis ook die beeld wat die kinders onthou. Vir my is dit die inleiding vir 2019. Die groot doel: Maak tyd met die Here. Bly naby aan Hom.

Elke jaar soek ek ‘n vers waarmee ek die nuwe jaar begin. Ek haak keer op keer vas by Efesiers 6:10 “Soek julle krag in die Here en in Sy groot mag.” Die groot vliegtuig. Ek lees verder. Trek daarom die wapentoerusting aan om staande te kan bly: Waarheid, geloof, verlossing, die woord van God…en ‘n vers wat my tref: Die bereidheid om die evangelie van vrede as skoene aan ons voete te trek. Kaalvoet gaan ons dalk sukkel, gaan ons ons tone stamp of in die dorings trap en meer wil baklei. Vrede as skoene…dink ons kan daarmee doen in ons mooi land.

Wanneer Koning Hiskia slegte briewe kry en hy benoud raak, vat hy dit tempel toe en sit dit voor die Here neer. Letterlik maar ook biddend. Dalk wat ons met ons koerante kan maak?
Naby aan die vliegtuig. Bereid om Sy klere aan te trek.

Op oujaar kry ons die inspirasie: wees ambassadeurs van Hoop. Ek en my gesin steek elkeen ‘n kersie aan. Ons is veronderstel om ligdraers te wees. Saam kan ons mekaar help….as ons naby aan die groot Ligbron leef.

2019. Ons Here is groot en magtig. Mag ons naby aan Hom bly.