Hoe hanteer ek irriterende mense?

0
347
geloof_3_reg.jpg

Daar is mense wat jou altyd verkeerd opvryf, maar jy kan hulle nie vermy nie. Sit jy hulle op hulle plek of verdra jy hulle net?

Dis nie lekker om ’n familielid of kollega te hê wat jou geduld tot die uiterste beproef met haar snaakse gewoontetjies of subtiele “stekies” nie. Sy irriteer jou grensloos!

Dis egter die moeite werd om die groter prentjie van haar lewe te probeer sien. Om in haar skoene te gaan staan. Dan kry jy ’n nuwe perspektief op haar en verstaan jy haar optrede ook beter.

As jy weet dat iemand al baie swaar gekry het en moeilike omstandighede moes oorkom, sal jy nie so maklik kwaad word nie. Jy sal meer begrip vir haar hê.

Dis seker die laaste ding wat jy wil doen, maar begin soek na iets wat julle twee gemeen het. Dit kan dalk net die kloof tussen julle oorbrug. Julle was miskien in dieselfde koshuis op universiteit of julle het dieselfde stokperdjie. Die kleinste raakpunt kan julle sommer op ’n baie beter voet met mekaar plaas.

Aanvaar kritiek met die regte, positiewe gesindheid

Dit maak nie saak hoe kwetsend en onregverdig ’n opmerking was nie, as jy mooi gaan dink, steek daar dalk tog ’n greintjie waarheid in. As jy wil groei, sal jy eenvoudig net jou woorde moet sluk en eers selfondersoek doen.

Aanvaar dat jy vir seker nie volmaak is nie. Jy kan ook foute maak. Jy wil dalk met alle mag iets bewys en dan vergeet jy skoon dat jy ook net ’n mens is – met baie swakhede.

As iemand byvoorbeeld gereeld grappenderwys sê jy is hardekwas, dink eers of dit nie dalk die geval is nie voordat jy jou vererg. Wat sê jy en hoe sê jy dit? Hoe lyk jou motiewe? Behandel jy ander as jou gelyke, of as minderwaardig aan jou?

Dit is nie maklik nie, maar selfondersoek sal jou meer bewus maak van jou eie swakhede – sodat jý nie dalk daardie persoon word wat almal irriteer nie.

Vergewe en verdra ander omdat jy ook vergewe is

Jou nuuskierige buurvrou en jou manipulerende baas is ook met liefde geskape, nes jy. Sy is ook sorgvuldig aanmekaargesit en het ’n unieke persoonlikheid, nes jy.

Probeer dus om daardie irriterende persoon deur God se oë te sien. Dis mos die voorbeeld wat Jesus aan ons gestel het. En Hy het met baie erger mense te doen gehad.

Dit sê eintlik iets van jou liefde vir Hom as jy ander kan liefhê en vergewe. Jy kry elke dag soveel genade, hoekom nie ’n bietjie daarvan uitdeel nie?

Jy wil tog nie altyd konfrontasies hê nie. Aan die ander kant wil jy ook nie jou gevoelens opkrop en skielik ontplof nie. Hoe weet jy wanneer jy moet terugkap of ’n opmerking moet ignoreer?

Wat jy moet doen, is om te bid vir wysheid en insig in die situasie. As jy dán nog voel dis nodig, sal jy móét praat – met liefde en respek.

Vertaal en verwerk uit The Art of Loving Unlovable People (Hillary McMullen), deur Ilze Ludick.