Hoe hanteer jy ’n Facebook aanval?

1845

Pascal Pienaar het, soos baie ander mense, onder ’n kuberboelie op Facebook deurgeloop, maar sy het kalm gereageer en haar waardigheid behou.

Dit is baie maklik vir mense om in die digitale era haatlike aanmerkings aan te stuur, want hulle voel veilig agter ’n skerm, maar dit is ook baie moeilik om so ’n situasie te hanteer as jy iemand nie in die oë kan kyk en sê “Pik op jouself” nie. Enige persoon wat die lewe só donker maak, het dit nodig. Iemand wat ’n vreemdeling of ’n bekende so aanval, se lewe is seker baie vervelig.

Iemand het my al sleggesê oor ’n boodskap op Facebook. Dit was moeilik om te sluk en dit het ’n fontein van vertwyfeling laat opborrel. As ’n aktrise kom ek elke dag voor my tekortkominge en onsekerhede te staan. Tog was dit ’n maklike besluit: “Jy gaan my nie weghou nie.” Iemand so kleinlik het nie die mag om my te laat opgee nie.

Natuurlik het dit seergemaak en was my eerste instink om dit persoonlik op te neem. Ongelukkig het die ou nie opgehou nie, selfs al is hy drie keer geïgnoreer. Reaksie is dikwels soos olie op ’n boelie se vuur. Tog het hy aangehou en toe het ek wel geantwoord, gelukkig afgekoel en kalm.

Dit is belangrik in so situasie. Wanneer ons uit seer op ons perdjie spring, is dit maklik om te oorreageer en dan lelike dinge terug te sê. Om die een in beheer van jou emosies te wees, moet jy die grootmoedige persoon kan wees. Jy wil nie self ook ’n boelie word nie. Wie weet watter pyn daardie ou self mee sukkel?

Maar ’n mens kan so iets net tot op ’n punt verdra. Hy het een kans gehad om sy saak te stel, maar hy het aangehou om my op verskillende platforms te kontak. Dit was die regte tyd om my stem dik te maak en hom uit te wys vir die wêreld. Dit lyk of hy uiteindelik darem die boodskap gekry het. Of hy gaan verander en nie weer iemand anders teiken nie? Niemand kan vir seker weet nie.

Die meeste mense het gesê: “Moenie jou aan hom steur nie.” Hulle was oor die algemeen baie bemoedigend. Dit wys net dat sosiale media ook ’n opbouende plek kan wees. Baie mense het boodskappe van ondersteuning gestuur. Slagoffers moet vir ander wys dat swak gedrag nie geduld kan word nie.

Die beste plan sou natuurlik wees om net weg te stap. Daar was ook die opsie om vir hom woorde van seën aan te stuur; dit sou hom meer geïrriteer het en ’n groter wen gewees het. Maar ons moet beter as ’n bakleiery wees. Dit is nooit die moeite werd nie.

Gaan stap liewer om die blok en vergewe hulle. Selfs al dink sulke mense dis die toppunt van hulle lewe, beteken dit nie hulle wen net omdat hulle iemand anders kon slegsê nie.

Tog het ek sy boodskappe vir die wêreld gewys, dat mense dit kon sien. Dis belangrik, want ons identiteit lê nie in ander mense se opinie of lelike woorde nie. Niemand is ander se slaansak nie. Niemand hoef dit te duld wanneer iemand sy eie onsekerhede op hulle probeer projekteer nie.

Omdat baie kinders en selfs grootmense elke dag by skole, huise en oor die internet geboelie word, kan mense vir mekaar wys hulle is nie alleen nie. Enigiemand kan enige tyd geteiken word, maar een vreemdeling se woorde op Facebook bepaal nie jou waarde nie.