Hoe help kollageen met veroudering?

180

Kollageen is nie net noodsaaklik vir ’n jeugdige, stralende vel nie, maar hou ook verskeie ander gesondheidsvoordele in.

Ongeveer 30% van die proteïen in die liggaam is kollageen, waarvan 75% in die vel voorkom. Dit verskaf struktuur aan en verhoog die elastisiteit en vogtigheid van die dermis.

Dit versterk jou bene, en verseker elastisiteit en die vernuwing van die dermis, kraakbeen en been.

Dié gelatienagtige proteïen word natuurlik geproduseer, maar vanaf die ouderdom van 25 neem dit teen ’n tempo van 5% per jaar af. Dit is deel van die verouderingsproses.

Teen die ouderdom van 40 kan dit reeds met 40% tot 50% verminder het. Dit is een van die redes hoekom jou vel dunner word en fyn lyntjies en plooitjies op hierdie ouderdom hulle verskyning maak.

Jou vel en hare kan ernstige skade ly indien jy nie stappe doen om die kollageen te verhoog nie. Vroegtydige kollageenaanvullings kan jou liggaam help om te herstel en die verouderingsproses vertraag.

Navorsing toon dat die gereelde inname van gehidroliseerde kollageen, wat die beste deur die bloedstroom opgeneem word, algemene selgesondheid verbeter en veroudering teenwerk.

Dit verminder plooie, verhoog hidrasie, herstel fermheid en plompheid en verbeter elastisiteit.

Vroeër is dit met ’n inspuiting toegedien, maar die nuutste tendens is mondelikse inname, in pilvorm of as ’n drankie. Sodoende word die kollageen afgebreek, geabsorbeer en na die areas versprei waar dit nodig is.

Dit is belangrik dat jy ’n gehidroliseerde peptied-aanvulling van hoë kwaliteit gebruik. Dit moet verkieslik van ’n organiese oorsprong wees en nie vullers bevat nie. Die persentasie moet hoog genoeg wees sodat dit die dermis kan bereik.

Karien Henrico, somatoloog
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.