Hoe kan ek God meer vertrou?

441
Liesel Krause-Wiid
Liesel Krause-Wiid

Ons praat gedurig oor ons probleme as berge wat oorkom moet word, in plaas van om te praat met die Een wat berge versit.

Die woord “vertrou” in Hebreeus beteken onder andere om jouself aan iemand anders vas te maak of om op iemand te leun. Maak jouself vas aan die Een wat jou die beste kan leer oor wat dit beteken om in Sy rus in te gaan, en al jou bekommernisse en sorge oor te gee.

Sien hoe daar nog altyd vir jou gesorg is

Wanneer jy voor ’n uitdaging te staan kom, moenie al die goeie dinge in jou lewe miskyk nie. As jy later terugkyk, besef jy altyd dat jy nie alleen was nie. Toe Dawid voor Goliat gestaan het, het hy moed gehad omdat Hy geweet het wie veg saam met hom.

Soms hardloop ons reg bo-oor genade. Soos die man wat in die woestyn verdwaal het en ná die tyd vir sy vriende vertel hoe hy gebid het dat sy lewe gespaar sal word. Toe sy vriende vra of hy toe gered is, antwoord hy: “Gelukkig het daar ’n landmeter verby gekom wat my gehelp het.” Duidelik het die man die wonderwerk misgekyk.

Ons sê maklik dat iets “toevallig” gebeur het. Maar dit is “Godsvallighede” en nooit toevalligheid nie. Sien die wonderwerke om jou raak in die alledaagse dinge, en vra dat jy meer sal vertrou, veral in die klein dingetjies.

[VIDEO] Hoe kan ek God meer vertrou?

As jy jou rug draai, kom Hy agterna

Ons vertroue kwyn maklik as dinge nie uitwerk soos ons wil hê dit moet nie. Dan vra ons: “Waar is God?” terwyl ons nooit in die steek gelaat sal word nie. Dit is ons wat ons eie kop wil volg.

Hoe merkwaardig dat ons nooit regtig verlore is nie. Ons word gesoek tot ons gevind word wanneer ons afdwaal. Adam en Eva maak droog, hulle kruip weg, en wat gebeur? Die Vader gaan soek hulle. Hy is sowaar die eerste sendeling!

Die gelykenis van die verlore muntstuk, die verlore skaap en die verlore seun beklemtoon die liefde van die Vaderhart… om te soek tot dit wat weg is, gevind is. Dit gaan eintlik nie oor hoe baie vertroue of geloof ek het nie, maar oor hoe groot Hy is.

Kyk terug, skep moed, en onthou om te onthou

Onthou hoe daar al in jou lewe gewerk is. Om terug te kyk laat jou moed skep. Die Vader is gister, vandag en môre dieselfde. Soos jy in die verlede gehelp is, so sal daar ook vandag en in die toekoms vir jou gesorg word.

Die mense in Bybelse tye het gedurig nagedink oor dit wat verby is, en onthou hoe hulle deur Israel se geskiedenis heen gedra is. Hulle vier steeds feeste om die gebeurtenisse te gedenk, soos die Pasga, wat Israel se uittog uit Egipte en uit slawerny vier. Kyk gerus meer dikwels terug oor jou lewe en onthou hoe daar oorvloedig vir jou voorsien is.

In essensie gaan vertroue nie oor hoe jy voel nie, want vandag kan jy vol vertroue wees en môre oorval die twyfel jou. Nee, geloof en vertroue kan nie gemeet word aan hoe jy voel nie, dit is iets wat jy net weet! Die seker wete dat jou gebede verhoor word, dat jy nooit alleen is nie… dit spreek van liefde en vrede wat die verstand te bowe gaan. Ek nooi jou uit om op die Woord te staan. Vertrou net en sien hoe berge versit kan word.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.

My een woord Gebruik die afslagkode LIESEL om die boek MY ÉÉN WOORD te koop op voelgoedboeke.co.za. R154 R219