Hoe kan ek meer geesdrif kry?

0
156
doel.jpg

Stel jy gereeld vir jouself ’n mikpunt, maar kom baiekeer net nie daarby uit nie? Jy verloor jou entoesiasme en maak nie klaar waarmee jy begin het nie. Wat keer jou om dinge deur te voer?

Die lering oor die sewe hoofsondes, of sogenaamde doodsondes, het oor ’n tydperk in die Christelike kerk ontstaan om lidmate te leer oor die mens se geneigdheid om te sondig. Dié sondes is woede, hebsug, hoogmoed, wellus, afguns, vraatsug en traagheid of luiheid, en hieruit spruit daar ’n menigte ander sondes. Luiheid (sloth in Engels) dui wel op fisiese luiheid, maar die klem val eintlik op geestelike luiheid: dat jy traag is om die dinge te doen wat jy weet jy moet doen.

Dit is in die mens se aard om enige werk, pyn en ongemak vermy. Jy weet wat om te doen, maar kies soms om dit nie te doen nie. In jou gedagtes sê jy eintlik: Ek wil nie te veel moeite doen nie. Môre is nog ’n dag. Dit kan iets eenvoudig wees, soos dat jy uitstel om die regte dinge te doen, of iets ernstiger, soos dat jy tevrede bly met jou negatiewe omstandighede.

Dit kan ook gevaarlik wees, soos wanneer jy laks is om jou opvolgafsprake by die dokter na te kom. Of dit kan jou selfvertroue ’n knou gee, soos wanneer jy tou opgooi met ’n projek net voordat jy dit sou afhandel. Dis nie maklik om traagheid in jou lewe uit te snuffel nie, want jy glo waarskynlik ook hierdie vier mites:

Mite 1: Besige vroue is nie lui nie

’n Mens kan jou van baie dinge beskuldig, maar beslis nie dat jy lyf wegsteek nie. Jy is dan die hele dag besig en sit nie vir ’n oomblik stil nie. As jy wel die slag tot rus kom, voel jy so skuldig dat jy iets sóék om te doen.

DIE WAARHIED: Jy kan nie net aanneem dat as jou dag oorvol is, daar nêrens ’n plekkie in jou lewe is wat jy afskeep nie. Traagheid kan agter ’n klomp minder belangrike aktiwiteite skuil. Van die traagste mense doen ’n menigte dinge en vermy dit wat regtig belangrik is.

Mite 2: Suksesvolle vroue is nie lui nie

Jy kyk na iemand se prestasies en dink: Sjoe, ek wens ek was so suksesvol! Wanneer ’n onderhoud met ’n bekende persoon gevoer word, wonder jy hoe op aarde sy dit regkry om soveel dinge te doen.

[pagebreak]

DIE WAARHIED: Dit hang natuurlik af van hoe ’n mens sukses beskou. Stem dit ooreen met God se idee daarvan? Waaraan meet Hy jou? Iemand se lewe kan mooi lyk van buite, want sy gee baie aandag aan die dele van haar lewe wat ander kan sien, maar sy skeep dalk die belangrikste areas in haar privaat lewe af.

Mite 3: Netjiese vroue is nie lui nie

Jy is stomverbaas as jy sien jou vriendin se kruie en speserye is alfabeties op die rakkie gepak of jou kollega ruim haar lessenaar elke dag voor huistoegaantyd netjies op. Dan dink jy aan jou eie deurmekaar kombuiskas of lessenaar en kry skaam. Jy het nog altyd geglo iemand wat ’n netjiese huis of kantoor het, het alles onder beheer.

DIE WAARHIED: Miskien is daardie hipernetjiese vriendin of kollega in ander opsigte ’n bietjie laks. Of sy vermy dit om aan sekere probleemgebiede in haar lewe te werk. Haar verhoudings is dalk ’n gemors of haar geestelike lewe is besig om in duie te stort.

Mite 4: Flukse vroue rus glad nie

Jy is gewoond daaraan om altyd besig te wees; daarom gun jy jouself nie ’n blaaskans nie. Selfs jou huismense ontgeld dit. Behoede die een wat luilekker agteroorsit sonder om iets konstruktiefs te doen. Jy glo ’n mens moet produktief wees, selfs as jy ontspan. Daarom sal jy eerder knope aanwerk of die wasgoed sit en opvou. Maar niks doen? Nooit!

DIE WAARHIED: Dis juis waar jy die fout begaan. Rus het beslis ’n plek in jou lewe. Hoekom anders is die sabbat ingestel? Dis nie rus wat die probleem is nie, maar hoe en wanneer jy dit doen. Daar is ’n tyd om te werk en ’n tyd om te rus.

Werk só aan die areas waar jy versuim

Jy hoef nie in sak en as te gaan sit omdat jy uitgevind het dat jy ook partykeer dinge ’n bietjie versuim nie. Ons is almal geneig om gemaksugtig te wees.

Begin by die begin. Stel vas op watter terreine van jou lewe jy meer moet insit. Moenie aanvaar alles is reg net omdat jy besig, suksesvol of goed georganiseerd is nie.

[pagebreak]

Begin dan om anders te dink. Probeer om die boodskappe wat jou gedagtes beïnvloed, te beheer. Hoe gereeld dink jy: Ek is nou te moeg. Daar is nog genoeg tyd, ek sal dit later doen. Ek het klaar ’n koeksister geëet, ek kan netsowel nog een eet en môre met die dieet begin.

Jy moet baas wees van jou gedagtes. Probeer van nou af om elkeen van jou verskonings met positiewe woorde te vervang. Sê eerder: Ja, ek is nou moeg, maar as ek hierdie ding klaar gedoen het, sal ek soveel lekkerder kan ontspan.

Dit gebeur partykeer dat jy talle goeie voornemens het en nie by een daarvan uitkom nie omdat jy so oorweldig voel. Fokus liewer op een ding op ’n slag en spits jou daarop toe vir die dag of die week. So kan jy van ’n kant af begin en goed voel as jy iets afgehandel het.

Jy hoef darem nie altyd alleen aan te sukkel nie. Vertel ’n vriendin of familielid van jou voornemens en vra haar om vir jou te bid. Dit sal jou dwing om daaraan te werk omdat jy amper verplig sal voel om die persoon nie teleur te stel nie.

Het jy al ooit van ’n onderwyseres gehoor wat haar leerders vra om net te studeer as hulle geinspïreerd voel? Die meeste kinders sal net leer as hulle weet daar wag ’n toets of ’n eksamen. Net so moet jy ook vir jouself gevolge skep, anders sal die “inspirasie” jou dalk nooit beetpak nie. Dink aan ’n beloning waarmee jy jouself kan dwing om tot die daad oor te gaan. As jou ’n tjek uitgeskryf en gepos het vir daardie donasie wat jy lankal wou maak, kan jouself belowe dat jy daarna verder aan die lekker boek kan lees waarmee jy besig is.

Bid tot die Here vir krag en dissipline sodat jy kan volhard. Jy hoef niks op jou eie aan te pak nie, solank jy net self iets probeer doen en nie bloot wag dat Hy dit vír jou doen nie.

Die teenoorgestelde van luiheid is nie noodwendig fluksheid nie, maar entoesiasme. Jy kan fluks wees en terselfdertyd op een of meer terreine net ’n bietjie entoesiasme kort. Die Bybel spoor ons ook aan om geesdriftig te bly, veral in ons diens aan die Here.

Jy wil nie aan die einde van jou lewe spyt wees oor dinge wat jy nooit gedoen het nie net omdat dit ’n bietjie inspanning van jou gevra het nie. So, gooi die traagheid van jou af soos ’n ou jas. Jou keuses bepaal immers wat jy tot hierdie wêreld bydra en of jy gaan word wat jy bedoel is om te wees.

Vertaal en verwerk uit Nancy Beach se Sloth.