Hoe kan ek meer vir God gee?

0
98
andries enslin

Ek is ’n doodgewone vrou wat vir my gesin kos maak en my kinders skool toe aanry. Ek het nie “goud” en “mirre” om vir ander te gee nie.

Ek is ’n doodgewone vrou wat vir my gesin kos maak en my kinders skool toe aanry. Ek het nie “goud” en “mirre” om vir ander te gee nie.

Dis goed om in die gewoonte te kom om iets terug te gee vir Jesus. Hy is dan so goed vir jou, jy kan mos nie alles vir jouself hou nie! Die goeie nuus is – jy hoef nie uitsonderlik te wees nie. Elke vrou het iets om te gee.

Nes die wyse manne goud, wierook en mirre vir Maria se baba gebring het, is jou lewe ook vol kosbare geskenke.

Kom ons dink eers prakties hieroor. Het jy al ooit gewonder hoekom die mans juis hierdie spesifieke geskenke gebring het? ’n Mens sou dalk eerder iets vir die baba verwag het, soos kleertjies of kombersies.

Weet jy hoe belangrik hierdie geskenke was? Josef en Maria sou weer na hulle gewone omstandighede toe teruggaan. Josef, ’n skrynwerker, moes gaan houtwerk doen om vir sy vrou en die nuwe baba te sorg. Maar in die nag kry hy toe die droom van die engel wat hom waarsku om Egipte toe te vlug.

Die geskenke van goud en mirre was baie werd. Dit was veel meer as huldeblyke aan ’n nuwe, langverwagte Koning. Dit was finansiële bronne wat Josef kon help om te doen wat hy moes. Dit was daadwerklike hulp sodat Josef met Maria en die baba kon vlug.

Daar is baie mense wat skepties is oor die kerk. Een van die redes is dat hulle nie praktiese hulp of geestelike bystand in ’n krisis kry nie. Hulle is moontlik werkloos of het ander probleme. Hulle soek egter verniet na ondersteuning by die kerk, want niemand daar gee vir hulle “goud” en “mirre” nie.

Jou lewe dra dikwels by tot antwoorde in ander mense se lewens, wat wemel van vraagtekens. As jy terughou, sit hulle dalk met ’n skeptiese storie. As jy nie van jou geld, tyd, gawes en talente gee nie, werk ander mense se stories ook nie uit nie.

Hierdie drie geskenke is spesiaal so gekies omdat elkeen ’n spesifieke betekenis het.

Goud was een van die belangrikste materiële hulpbronne

Goud was beslis geld. Dit was die geldtaal van daardie tyd en is mos vandag nog waardevol en kosbaar. Dit verwys na die materiële hulpbronne wat nodig was om te oorleef.

Jy kan ook mense help met die finansies wat jy gekry het, maar jy hoef nie skatryk te wees om ’n verskil te maak nie. Dit kan ook iets anders as jou salaris wees – jou goud is meer as jou geld.

Hoe lyk die goud wat jý kan gee? Dis dalk jou warmte en vermoë om te kommunikeer. Miskien het jy ’n oop huis en ’n oop hart. Jy luister graag en geniet dit om ander beter te laat voel.

Of jy het gawes en talente gekry wat ’n groot verskil in ander se lewens kan maak. Dan het jy baie goud in jou lewe. Moenie skaam wees om dit uit te deel nie.

Wierook se waarde lê daarin dat dit moet brand

Wierook is ’n stokkie wat jy aan die brand steek en dan gee dit ’n aangename geur af. Ja, jy kan sê dat jy ’n lieflike geur moet versprei met jou woorde en optrede, maar miskien lê die waarde daarvan dieper. Onthou, wierook beteken eers iets wanneer dit brand, anders bly dit maar net ’n stokkie. Jou wierook is dus al jou hartseer stories, die tye wat jy dalk “gebrand” het. As jy stilbly daaroor en dit nie met ander deel nie, help dit niks.

Wees eerlik en erken jou skeptiese dae van worsteling en vrae vra. Ons almal wonder soms: Waar was God? Hoekom het dit met my gebeur?

Baie vroue probeer hulle hartseer wegsteek. Deel dit eerder met ander wat deur dieselfde dinge as jy gaan. Dit bring vir jou én vir hulle genesing. Jou wierook, die tye wat jy gebrand het, kan iemand anders uit haar skeptiese omstandighede help en weer hoop gee.

Mirre was ’n kosbare geskenk wat aan vergifnis herinner

Die derde geskenk was ’n kosbare lekkerruik olie. Jesus is ook voor Sy kruisiging daarmee gesalf. Dit het reeds vir Hom as baba voorspel dat daar pyn wag.

Maar dit was ook ’n troos. Mirre laat ons dink aan versoening en vergifnis – dít wat aan die kruis gebeur het.

Miskien moet jy ook vergewe en vir iemand gaan sê jy is jammer. Daar is dalk ’n verhouding wat jy moet herstel. Dit gaan nie baie van jou verg nie. Dis maklik: Jy gaan net en gee hierdie geskenk met ’n sagte geur wat iemand toevou en vrylaat.

Hierdie drie geskenke is simbolies en pas in by die kultuur van daardie tyd. Die wyse manne het dit vir die baba gebring, maar dit het vir Sy ouers meer beteken as vir Hom.

Josef en Maria het die geskenke dankbaar aanvaar en gebruik. Dit het hulle gehelp om hulle verhaal klaar te skryf. Net so help jou goud, wierook en mirre weer iemand anders met hulle storie. En dit is jou geskenk aan God.