Hoe kan ek oogkleure opkikker?

oogkleure

Net soos in die natuur, verander die kleure van ons uitrustings en grimering ook om die beste van elke jaargety te maak.

Pers, goud en geel is deesdae hoogmode in die mooimaakwêreld. Kikker enige vaal dag op deur met ’n moderne reënboogpalet te eksperimenteer totdat jy ’n kombinasie kry wat vir jou werk.

Daar is geskikte oogskaduvermengings vir elke oogkleur. Speel met variasies vir ’n vars, stralende gelaat.

Om blou oë te beklemtoon: warm bruin met ondertone van oranje.

Vir skitterende groen oë: ’n bietjie pers of wynrooi met natuurlike vanielje of goue nuanses.

Om bruin oë te komplementeer: neutrale bruine met grys ondertone saam met sagte pienk of pers.

Vir ’n dramatiese effek werk ’n diep pers, gemeng met bronsskakerings of selfs swart, wonderlik vir alle oogkleure.

Gebruik ’n mediumgrootte plat grimeerkwas om ’n ligte beige tint oor die hele ooglid aan te wend en ’n fyn kwassie om ’n natuurlike ligbruin onder die wenkbroue in te vul.

Bring met ’n ronde borsel ’n glanslose wynrooi, oranjebruin, grysbruin of pers van die binne- na die buitekant van die oog aan, effens bo die vou van die ooglid. Ligte, medium en glanskleure kom altyd op die ooglid.

Tik met ’n ronde borseltjie ’n donkerder bruin of pers in die buitehoeke van die ooglid. Maak ’n skadu in dieselfde tint op die onderste ooglid.

Gebruik ’n kohl-potlood of oogskadu in donkerbruin of pers om die wimpers te beklemtoon. Skakeer van binne na buite met ’n vlerkie na buite, in ’n opwaartse beweging.

’n Romerige maskara laat die wimpers voller en langer vertoon.

JB Make up Jolanda en Tanya, JB Makeup

Kliek hier vir meer videos en artikels deur JB Makeup.