Hoe kan jou hare jou jonger laat lyk?

0
92

Helenè Bester vertel ons van haar jongste haarneigings en hoe sy in haar twintigs baie dapper was met haarkleur.

Dit staan soos ’n paal bo water: Namate jy ouer word, verander jou gesig en daarom moet jou haarstyl ook verander. Gelukkig hoef jy nie groot veranderinge aan te bring nie.

Selfs net goeie versorging van jou hare of om jou haarkleur te verryk kan jou jonger laat lyk.

Om ’n haarstyl te kies wat jou ’n jeugdige voorkoms gee, is nie maklik nie en om prentjies in tydskrifte na te boots mag dalk nie die verlangde effek hê nie. Bespreek dit liewer met jou haarkapper om seker te maak jy kies die haarstyl en haarkleur wat jou die beste gaan pas.

Helenè Bester vertel ons van haar jongste haarneigings en hoe sy in haar twintigs baie dapper was met haarkleur.

My opinie oor haarstyle

In my jonger dae was ek baie dapper met my haarkleur, of eintlik baie dom. Op universiteit was my hare blond, en so tien jaar gelede was dit bloedrooi of dalk eerder oranje. Maar met die jare kom wysheid en het ek besef dat blonde hare my veel ouer laat lyk.

My opinie is: Hoe ouer ’n mens word, hoe korter kan jy jou hare dra. Boonop is dit nie nodig om die grys hare meer so erg te verbloem nie. Soms lyk ’n vrou juis ouer wanneer sy nie ’n bietjie by die grys aanpas nie.

Die jongste haarneigings

Ek probeer om die jongste haarneigings te volg sodat ek so lank moontlik jonk en jeugdig kan lyk. Op die oomblik sny en kleur ’n funky haarkapper in Linden, Jozi, my hare.

Alhoewel ek voorstelle maak vir my haarstyl, sê sy nie net ja en amen op alles nie. Sy weet byvoorbeeld baie meer van haarkleur en watter haarsnit die beste by my sal pas. Sy bring ook altyd die kleurkaart sodat ons saam kan besluit en sodat ek weet wat sy beplan. Sy het my hare begin donker kleur en nou lyk ek amper soos ’n prinses.

Hoe ek my hare stileer

Op die oomblik is my huidige haarstyl my gunsteling. Dit is gemaklik en maklik hanteerbaar. Die kleur is donkerbruin, wat my sagter laat lyk, en die snit is nie te lank of te kort nie. My hare het ’n kinkel in en hierdie snit maak dit moontlik om dit in ’n poniestert te dra.

Die een voorvereiste wat vir my ononderhandelbaar is, is dat my hare nooit met ’n middelpaadjie gedra sal word nie. Ek lyk vir myself baie vreemd daarmee. Kantpaadjies is meer my ding. Ek sal ook nooit my hare los dra as dit nie goed versorg is nie.

Beste wenke vir vroue

Een wenk is om jou hare so eenvoudig moontlik te dra, maar in ’n styl wat jou steeds ’n jeugdige voorkoms bied. Dit is onnodig om kanne vol haarsproei op jou hare te gebruik, inteendeel, gebruik so min moontlik. Moenie die jongste neigings slaafs navolg nie. Dit is onnodig om jou hare pienk te kleur net omdat dit die gier is. Moenie ’n impulsiewe besluit neem en jou hare op die ingewing van die oomblik kort sny nie. Blaai gerus deur tydskrifte om ’n idee te kry van wat die jongste neigings is, maar volg altyd jou haarkapper se raad.