Hoe kry ek ’n plat magie?

4870

Hunker jy na ’n strykplankmaag, maar ten spyte van al die opsitte kan jy net nie van die ronde magie ontslae raak nie? Dan moet jy eerder begin let op wat jy eet.

Is daar natuurlike hulp vir hardlywigheid?

Kruie is ’n natuurlike manier om hardlywigheid te verlig. Kruieteeprodukte beweer dit sal binne 24 uur daarvan ontslae kan raak, wat ook jou maag opgeswel kan laat lyk.

Maak jou eie kruietee. Meng gelyke hoeveelhede kruisement, brandnetel en vinkelsaad. Gooi een eetlepel in ’n kastrol en voeg ’n halfliter kookwater by. Laat staan vir tien minute, syg deur en drink een koppie drie keer ’n dag, warm of koud.

Of eet ’n dag lank net rou groente en vrugte. Maak ’n gladdejantjie vir ontbyt met piesang of avokado, spinasie en bessies, eet ’n slaai vir middagete en vir aandete gerasperde rou groente, soos murgpampoentjies, botterskorsie en beet wat in sojasous, olyfolie, knoffel, suurlemoensap en heuning geweek is.

Wat kan help om van winderigheid ontslae te raak?

Die oorsaak van winderigheid kan ’n wanbalans tussen die goeie en slegte bakterieë in jou ingewande wees. Probiotika kan help om dit te behandel. Dit is lewendige bakterieë en gis wat die ingewande gesond hou. Dokters beveel dit dikwels aan vir mense met spysverteringprobleme of wat antibiotika gebruik, want antibiotika vernietig ook die goeie bakterieë in die ingewande.

Probiotika kan as ’n aanvulling geneem word, soos Probiflora Classic Bowel Support vir volwassenes (R199,95 vir 60 kapsules by Dis-Chem). Probeer om meer gefermenteerde kos soos onversoete jogurt, suurkool, kefir, kombucha en kimchi eet. Die laaste drie sal jy hoofsaaklik by gesondheidswinkels opspoor.

Drink ook ’n koppie warm water met suurlemoensap, veral soggens net ná jy wakker geword het. Jy kan die suurlemoensap ook by groentee of rooibostee voeg.

Kan stres my maag opgeblaas en vet laat voel?

Stres kan op die lange duur veroorsaak dat jou liggaam vet om jou middel stoor. As jy gespanne is, skei jou liggaam kortisol (jou veg-of-vlug-hormoon) af. As dié vlak aanhoudend hoog is, hou jou liggaam aan om glukose (suiker) te vervaardig, wat jy dan nie gebruik nie. So word dit as vet om jou maag gestoor.

’n Aanvulling met vitamien B of magnesium bevorder die vervaardiging van serotonien (’n goedvoelhormoon), wat jou kan help om stres beter te hanteer.

As die suikerlus jou oorval, eet eerder kos met baie proteïene, soos vis, hoender of neute. Dit help om die bloedsuiker te stabiliseer, wat ook die smagting na suiker sal hokslaan. Dit verg meer energie om proteïne te verteer as koolhidrate.