Hoe kry ons vrede in die huis?

0
96
vrede.png

Anna Joseph sê sy glo dat kommunikasie die oplossing is – praat met jou gesinslede! Daarom redeneer sy gereeld oor verskeie onderwerpe met haar tieners. So leer sy hulle hoe om konstruktief van iemand te verskil.

Jy voel partymaal soos die grondboontjiebotter in die toebroodjie, want jy moet alewig die vrede probeer bewaar. En dan kry jy steeds die wind van voor, sommer van alle kante!

Tog is dit nou eenmaal so: Jy is die een wat kan bepaal wat van julle huisgevegte word. Jou reaksie kan die vuur aanblaas of die situasie heeltemal ontlont. Dit maak nie saak of dit jy en jou man, jy en jou tiener of jy en Ouma is wat koppe stamp nie, die beginsels bly dieselfde.

Moenie te vinnig oorreageer nie

Jy dink seker nou: Ja, dis wat my mense ook altyd sê! Maar hoe kan ek kalm bly as Boeta die kat aan haar stert rondsleep? As Sussa se kamer al wéér soos ’n slagveld lyk? Of as Manlief by die huis kom en sê hy het vergeet om my te sê, die baas kom vanaand by ons eet?

En tog, geeneen van hierdie situasies is regtig lewensgevaarlik nie. (Dis nou as jý nie die arme kat is nie!) Probeer om altyd eers die omstandighede in perspektief te sien voor jy begin gal afgaan.

Jou meisiekind het dalk ’n dol week gehad en nie tyd gehad om haar kamer aan die kant te maak nie. Dit sál weer beter lyk. En die baas en sy vrou is ook net mense wat miskien ’n lekker bord gekookte kos meer sal geniet as ’n eksotiese vyfgangmaaltyd.

Die oomblik wat jy emosioneel raak en alles uit verband ruk, raak dit sommer gou ’n volskaalse oorlog. Probeer om eers rustig te luister en tot tien te tel sodat jy nie oorreageer en iets sê wat kon gebly het nie.

Bly kalm en praat eerder ’n bietjie sagter

Jou eerste reaksie is dalk om al hoe harder te praat omdat jy ontsteld is. Jy besef dit nie altyd nie, maar die ander persoon kan maklik voel dat jy op hom of haar “skree”. Wat natuurlik net olie op die vuur kan wees.

Dis goud werd om, in die hitte van die oomblik, jou oë toe te maak en te vra vir kalmte en wysheid. Praat doelbewus sagter en stadiger. Hou ook jou liggaamsbewegings rustig – moenie omdraai en wegstap of die deur toeslaan nie.

Dis amper soos om ’n emosionele termometer in jou hand vas te hou sodat jy kan agterkom wanneer dit tyd is om af te koel. Jy sal verbaas wees om te sien hoe jou kalm reaksie ’n plofbare situasie kan ontlont.

Sluk soms jou trots en bly nederig

As jy agterkom dat jy aanhoudend met dieselfde persoon vassit, is daar waarskynlik ’n ander kwessie. Daar is miskien ’n bietjie trots aan jou kant. Jy weet mos hoe maklik jy tydens ’n rusie met jou kind sal sê: “Wie is jý om so met mý te praat?” Natuurlik moet sy respek hê vir jou, maar is jy nie dalk te liggeraak nie?

Jy voel dat jy nie gaan toelaat dat iemand dít of dát van jou dink nie. Daarom móét jy altyd jou standpunt tot die uiterste verdedig. Of jy sal sê: “Ek het nou genoeg gehad, ek gaan dit nie langer vat nie!” En jy beskou dus elke argument as ’n persoonlike aanval.

Natuurlik is dit nie van toepassing op ’n situasie waar jy emosioneel of liggaamlik afgeknou word nie. Maar in ’n normale gesinsopset is daar tog tye wanneer jy moet ophou om jou beeld ten alle koste te beskerm.

Selfs as jy soms misverstaan of vals beskuldig word, moet jy dapper genoeg kan wees om op te hou om jouself so te verdedig.

Jy moet genoeg vertroue in God hê om jou reputasie en jou toekoms in Sy hande te kan los. Hy ken jou hart, Hy weet dat jy goeie bedoelings het en net die beste vir jou gesin wil hê. Hy weet jy probeer ook net jou bes om almal gelukkig te hou en ’n vreedsame tuiste te skep. Hy kan jou naam beskerm en dinge reg laat uitwerk – vertrou Hom daarvoor.

Onthou: Dis nie ’n teken van swakheid om ’n konfrontasie of ’n rusie te probeer vermy nie. Jy hoef nie altyd die laaste woord in te kry nie. Jy is die een wat bepaal hoe die atmosfeer in julle huis gaan wees – rustig en kalm, of gespanne en plofbaar.

Vertaal en verwerk uit Bringing Peace to the Battlefield of Your Home (Cindi McMenamin), deur Ilze Ludick.