Hoe lyk jou Stiltetyd-plantjie?

Voordat jy verder wonder laat ek verduidelik.

Ek’s besig om ‘n oog te hou by familie se huis terwyl hulle op ‘n wegbreek is en daar is pragtige blommekinders om te versorg.

Soos ek besig is om ‘n plant wat elke dag moet water kry, sodat hy sterk en mooi kan bly, benat … tref iets my. Veronderstel jou Stiltetyd is so ‘n plantjie. Daagliks het hy liefde en aandag nodig anders sal hy uitdroog, begin swaar trek of uiteindelik dood gaan.

Daar’s te veel van ons wat die sorg van ons plantjies nalaat, wat nie besef of weet die integrale deel wat dit vorm of behoort te vorm in die lewe van elke Christen wat in verhouding met God wil leef.

Elke dag se stil-sit-en-word-by-Hom. Dis waar Christenskap waarlik lekker raak.  

Jy begin dalk benoude hartkloppings kry en dink ek ken dit nie. Jy begin wonder … hoe gaan ek dit oorleef om vir ‘n paar minute elke dag stoksielalleen te wees saam met God?

Prontuit wil ek vir jou sê … jy gaan piekfyn wees. Dit is moontlik. Regtig. Vat dit van iemand wat al daar was en nie gesterf het nie. Byna maar darem. Nee kyk, nou terg ek heerlik maar die beginsel waarheid bly dieselfde.

Geen kind van God kan sonder wortels en voeding hom of haarself eintlik ‘n Christen bly noem as hulle nie daagliks die nutriente wat nodig is om te oorleef en te floreer inneem nie.

En dit is wat daaglikse Stiltetyd in die lewe van elke Christen deponeer. Koninklike konneksie. Bomenslike vrede en vermoë. Rus en rigting van Bo.

Daar is soveel waarde wat sit-by-God inhou maar hiermee wil ek vandag veral een bo alle ander uitsonder.

As jy intimiteit met God wil ondervind. As jy honger is vir die dieper dinge van God. As jy wil uitkom by dit wat Abba vir ons voorberei het op aarde. Dan wil ek net sê … maak elke-dag-kuier-saam-met-God ‘n not-negotiable. Jou hele lewe deur.

Vorige artikelRuik die koffie
Volgende artikelWaar lê jou fokus?
Blogger - Letitia Pienewald
Letitia Pienewald is ‘n doodgewone mens wat die wonder van hartsintimiteit met God ontdek het en ander graag help om dit ook te vind. Daar was ‘n honger in my hart na meer van Jesus en toe vra ek Hom vir meer. So is die blogs King of Kings en Anker van Hoop gebore. Ek het begin om gediggies van God neer te skryf maar dis nou al veel meer. Dis ‘n voorreg om my pad saam met die Here met julle te deel. ‘n Gebed is dat my en jou bewondering vir God altyd nuut en vars sal bly. Verder is ek lief vir die lewe en so dankbaar vir genade en hoop, waarsonder ek nie kan nie.