Hoe maak jy krewe dood?

0
482

Krewe word doodgemaak deur hulle in ‘n pot kookwater te druk.

Daar is baie natuurliefhebbers en wetenskaplikes wat aanvoer dat krewe verskriklike pyn ervaar wanneer hulle lewend gekook word aangesien hulle so ‘n gesofistikeerde senuweestelsel het. Die Switserse regering het dus nou wetgewing ingebring wat restaurante vanaf 1 Maart vanjaar verbied om krewe lewend te kook. Krewe moet nou voor die tyd op ‘n ander manier doodgemaak word, soos byvoorbeeld met elektriese skokke. Ek moet sê dit klink vir my ook verskriklik wreed om ‘n kreef lewend te kook!

Die Ou Testament verbied die eet van onder andere krewe: “In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het. Dit geld vir soutwaterdiere en varswaterdiere. Maar enige ding wat in die water lewe en nie vinne en skubbe het nie, is vir julle verbode. Hulle is vir julle verbode en julle mag glad nie van dié diere eet of selfs raak aan een wat dood is nie. Alle waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, is dus vir julle verbode” (Levitikus 11:9–12).

Daar is al baie bespiegel wat die rede was vir hierdie verbod. Een van die verduidelikings wat soms gegee word, is dat waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, gewoonlik in vlak water voorkom, en derhalwe dikwels draers van allerhande bakterieë is. Die verbod is dus om higiëniese redes ingestel, volgens sommiges.

In die Nuwe Testament lees ons dat hierdie onderskeiding tussen rein en onrein diere nietig verklaar is: “Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (Handelinge 10:14–15).