Hoe moet ek kritiek hanteer?

0
708
kritiek.jpg

Kritiek is iets wat elkeen van ons iewers gaan kry. Dit laat jou maklik weerloos voel en jy sukkel om dit te verwerk. Maar dink net eers wat die rede agter die kritiek was.

“Ek wil heeltyd ander se goedkeuring hê. As iemand my reghelp en sê wat ek verkeerd gedoen het, voel ek simpel en dink dadelik ek is nie goed genoeg nie. Dit voel of die persoon so min van my dink. Ek weet ek is heeltemal te sensitief, maar dis moeilik om te verander. Wat kan ek doen om kritiek vir my te laat werk en my ’n beter mens te laat word?” Anne-Lize Moller

Toe ons op Facebook gevra het hoe ons lesers kritiek hanteer, het die meeste van julle gesê julle sukkel om dit te verwerk. Jy voel dadelik dat jy nie goed genoeg is nie en dat jy verwerp word. Soms is dit ’n probleem wat alreeds in jou kinderjare begin het. ’n Tannie het gesê jy mag nie nog ’n snytjie koek kry nie, want jy is al klaar effens rond. Van toe af is jy sensitief oor jou gewig. En enige raad wat iemand jou nou as vrou gee, laat jou weer soos daardie klein, onseker dogtertjie voel.

Niemand spring kritiek vry nie. Ons maak mos maar foute, en dis tog onmoontlik om almal heeltyd tevrede te stel. Veral hoë bome vang die meeste wind. As jy ’n bekende persoonlikheid is, is die pyle wat na jou toe afgeskiet word, nog skerper. Dunay Darren het onlangs in FINESSE gesê mense kan baie ongevoelig wees. Sy is byvoorbeeld al gekritiseer omdat sy nie méér moeite met haar hare gedoen het op haar troudag nie! Gelukkig weet sy dat almal nie altyd van haar gaan hou nie en dat dit ook nie saak maak nie.

Louis en Hettie Brittz het in 2010 ook baie negatiewe reaksie van die publiek gekry. Hulle het skaars ’n dag na ’n gewapende roof en verkragting gesê hulle vergewe die aanvallers en hulle is oukei. Mense kon nie glo hulle kon so kalm wees daaroor nie en het baie oor hulle te sê gehad.

Jy weet nou kritiek is onvermydelik en almal loop daaronder deur. Tog kry party vroue dit reg om ongeskonde anderkant uit te kom. Jy kan ook. As jy gereeld in een van die volgende slaggate trap, let voortaan op daarna en probeer dit vermy.

Jy probeer nie vasstel wat die motief is nie

Jy is gewoonlik so besig met jou eie emosies as jy ’n teregwysing kry dat jy vergeet dat die persoon moontlik ’n goeie rede het vir haar optrede. As ouer het jy byvoorbeeld die beste bedoelings. Jy móét mos jou dogter reghelp as jy sien haar tafelmaniere laat veel te wense oor. Jy wil graag hê sy moet haar tussen ander kan handhaaf en nie skaam kry omdat sy nooit geleer het om reg te eet nie.

As jy ontevrede is met haar skoolpunte, is dit omdat jy weet sy kan beter doen en graag wil sien dat sy haar volle potensiaal bereik. Daardie tannie wat kleintyd gesê het jy kan nie nog ’n stukkie koek kry nie, het dit dalk ook met goeie motiewe gedoen. Sy het gesien jy is ’n mooi kind en wou net op haar manier help dat jy gesonde gewoontes aanleer.

Dit kan ook wees dat die oorkritiese persoon ’n selfbeeldprobleem het en eintlik baie onseker is. Deur ander af te kraak voel sy beter oor haar eie vermoëns. Dus kyk sy gedurig om haar rond om ander se foute vir hulle uit te wys.

Die kollega wat altyd ’n mondvol te sê het oor jou, is miskien ’n bietjie jaloers. Jy het dalk die bevordering gekry waarop sy haar oog gehad het. Wat jy nie weet nie, is dat sy jou heimlik nog altyd bewonder en wens sy kon soos jy wees.

Sodra jy jou in die ander persoon se skoene kan plaas en kan probeer verstaan waarom sy kritiek uitdeel, sal jy weet hoe om die situasie te hanteer. As jy regtig drooggemaak het en sy het goeie bedoelings, goed en wel. Anders hoef jy jou glad nie aan haar vitterigheid te steur nie.

[pagebreak]

Jy is dadelik op die verdediging en maak verskonings

Dis doodnormaal om op jou agterpote te spring as jy tereggewys word. Jou selfvertroue het pas ’n knou gekry en jy voel behoorlik jy sit tussen die vloer en die politoer! Jy wil so gou moontlik begin verduidelik waarom jy so opgetree of die spesifieke besluit geneem het, sodat die ander party sal verstaan en dalk sal erken dat sy onnodig krities is.

Onthou, niemand is volmaak nie; jy sál die een of ander tyd skeeftrap. Wat jy dus eerder kan doen, is om diep asem te haal en rustig te luister. Gee die persoon kans om klaar te praat sonder om haar in die rede te val. Filtreer dit deur jou eie waardestelsel en neem ’n besluit of jy jou daaraan gaan steur of nie. Vra vrae soos: Van wie kom dit? Steek daar enige waarheid in? Is hierdie mens eintlik die een met die probleem? Wat is haar motief?

As jy seker gemaak het die kritiek is geregverdig en sy het ’n punt beet, kan jy realisties daaroor begin dink. Probeer om dit eerder as terugvoer te sien. Hoe gaan jy weet of jy op die verkeerde pad is as niemand dit af en toe vir jou sê nie? Jy kan tog nie aan jouself skaaf as jy nie weet hoe jy kan verbeter nie.

Gryp die geleentheid aan as ’n kans om te groei. Jou vriendin kan goeie raad gee oor ’n familiekrisis omdat sy ’n buitestander is en meer objektief as jy daarna kyk. Volgende keer kan jy dit beter hanteer. By die werk voel jou baas miskien jy het potensiaal, maar daar is plekke waar jy kan verbeter sodat jy bevordering kan kry. Gebruik dan die terugvoer tot jou voordeel.

Jy is bang om die persoon te konfronteer

Jy maak dalk soos ’n skilpad as iemand jou kritiseer – trek terug in jou dop en voel so skaam dat jy nooit eers weer daardie persoon in die oë wil kyk of met haar wil praat nie. Veral as jy voel jy het dit regtig nie verdien nie.

Die meeste mense bedoel dit eintlik goed en besef nie hoe seer hulle woorde jou maak nie. Behalwe as jy dapper genoeg kan wees om dit vir hulle te sê. As jy weet die persoon het goeie bedoelings en wil jou eintlik net help om te verbeter, is dit nie so moeilik nie. Konfronteer haar eerlik en reguit en sê hoe jy voel. Vra of sy aan ’n ander manier kan dink om jou te motiveer as om jou af te kraak.

Al is jou gevoelens seergemaak, moet jy nie toelaat dat bitterheid die oorhand oor jou kry nie. Anders is dit asof die persoon jou nog steeds seermaak. Jy moet kan vergewe – nie net om die ander een se onthalwe nie, maar omdat dit ook jou eie lewe sal versuur. Bitterheid is ’n negatiewe emosie wat al jou vreugde kan steel.

As jy doen wat jy dink God van jou verwag en ander is nie tevrede daarmee nie, is dit nie jou fout nie. Jy weet mos waar jou sekerheid is en wie jy is. Uiteindelik is dit al wat saak maak. Jy hoef teenoor niemand anders verslag te doen nie. Hy sal wel dinge vir jou reg laat uitwerk.

So, jy hoef nie altyd die groen lig by ander mense te kry nie. Voor jy op jou perdjie spring, dink eers aan die motief agter die kritiek. Moenie verskonings maak nie en wees dapper genoeg om te sê hoe jy voel. Hou moed en geniet die uitdaging!

Vertaal en verwerk uit Deana Murphy se Criticism Will Come: 3 Ways To Handle It.