Hoe moet ek vir my borste sorg?

304

Borsversorging is nie net vir nuwe ma’s nodig nie. Dit behels ook meer as ’n gereelde besoek aan jou ginekoloog.

Perfekte, ferm borste is wat vroue begeer. Ongelukkig eis swangerskap, ouderdom en gewigsverandering op die ou end ook hier hulle tol.

Jou bates lê bo-op jou borsspiere en bestaan hoofsaaklik uit vet- en bindweefsel en kliere. Jou vel is al wat hulle ophou en daarom is dit belangrik om dit gesond, sterk en soepel te hou.

Om nie ’n bra te dra nie kan onherstelbare skade aanrig. Dit is belangrik om van jongs af ’n goeie bra te dra wat ordentlik pas en voldoende ondersteuning bied. Dra ’n sportbra wanneer jy oefen.

Oefeninge met gewigte of opstote kan help om die borskasspiere te versterk. ’n Ander tegniek is om jou handpalms teen mekaar te druk met jou elmboë horisontaal, parallel met die grond.

Soos jou spiere saamtrek, sal jy voel hoe dinge begin oplig. Doen dit 25 keer per dag vir die beste resultate.

Gewigsverlies lei tot minder vetweefsel. As jou vel droog en gerek is, gaan alles begin hang sonder die ekstra volume.

Wend gereeld en mildelik ’n omega-ryk vogroom, verfermingsjel of -serum aan. Dit help om die elastisiteit te behou en verseker dat die vel makliker terugkeer na sy oorspronklike vorm en fermer lyk.

Gebruik verkieslik produkte wat spesifiek vir die delikate borsarea gemaak is. Hierdie area bevat baie minder oliekliere as byvoorbeeld jou gesig, maar word net so dikwels blootgestel aan die son, wat aansienlike skade, veroudering en verlies aan elastisiteit veroorsaak.

Gereelde versorging sal jou ook help om gouer enige verandering te bespeur.

[VIDEO] Wenke om jou borste ten beste te versorg

Janine Janse van Rensburg, somatoloog
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.