Hoe moet jy konflik hanteer?

Konflik. Party mense hoor net die woord dan begin hulle al dink aan wegkruip, ander is altyd gereed vir ‘n gestryery, solank hulle net kan wen.

Meeste vergeet dat konflik ‘n normale deel van die lewe is – waar daar mense is, sal daar verskillende opinies oor dinge wees.

Dis mos maar eintlik al wat konflik is, ‘n meningsverskil met die potensiaal om handuit te ruk as dit nie reg hanteer word nie. Basies is daar net drie maniere wat enige konfliksituasies hanteer kan word…

Aggressief: Jy weet mos, dis nou al daardie Humeurige Hennetjies wat so vreeslik aan die kloek kan gaan as iemand net lyk asof hulle nie gaan saamstem nie. Pof hul dadelik op en storm in. Die meeste se woorde is al skerp genoeg om diep wonde te laat, maar jy kry die Humeurige Hennetjies wat sommer sal klappe ook uitdeel.

Passief: Die Passiewe Patrysies is gewoonlik die teikens vir die aggressie. Hulle hou nie van konflik nie en probeer wegkom voordat dit lyk asof ‘n konfliksituasie kan ontkiem. Beland hulle wel in die spervuur sal hulle uit hul pad gaan om die meer aggressiewe partye in die situasie tevrede te stel. In so mate dat hulle selfs goed sal doen waarmee hulle eintlik glad nie saamstem nie.

Selfgeldend:  Die Selfgeldende Swaeltjies vlieg ver en hoog want hulle word nie grond toe getrek met die ekstra bagasie van onverwerkte emosies nie. Hulle sal nie maklik die oorsaak van ‘n konfliksituasie wees nie, maar sou hulle hulself skielik in een bevind weet hulle hoe om op te staan vir dit wat reg en regverdig is sonder om aggressief te wees. Hulle het ook van die lewe se grootste geheime ontdek… dis om nooit in nuttelose argumente betrokke te raak nie. Dit vat net tyd en energie wat eerder gebruik kon word om groter hoogtes te bereik.

Vorige artikelMy bid is op, Here
Volgende artikel#netGIRLS Epimax bootreis 2020
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.