Hoe om beurtkrag te oorleef

0
225
beurtkrag.jpg

Eskom se probleme gaan nog lank met ons wees. Maak seker jy is reg om die ergste krisisse die hoof te bied.

Eskom se probleme gaan nog lank met ons wees. Maak seker jy is reg om die ergste krisisse die hoof te bied.

Na wat berig word, gaan dit tyd vat vir Eskom om die kragtoevoer te stabiliseer. Dis beter dat jy so gou moontlik gewoond raak aan die idee en oplossings vind vir al die maniere waarop kragonderbrekings jou alledaagse lewe raak.

Hoe gemaak as jy die magies vol moet kry?

PROBLEEM: Jy het nou net by die huis gekom en die kinders moet kos kry, maar die krag is af. Jy mag dalk dink dis nou die tyd om na die naaste restaurant of kitskosplek te ry, maar as die hele buurt se krag af is, sal hulle ook nie kan kos maak nie.
OPLOSSING: Die beste oplossing is om ’n klein gasstoof te koop. Dit sal nie baie ruimte in beslag neem en gas is betreklik goedkoop. Jy kan ’n een-plaat-gasstofie vir R279 by iWarehouse.co.za kry. Sorg ook verder dat jy meer niebederfbare kos koop.

Die uitwerking van beurtkrag op elektriese toestelle

PROBLEEM: Elektriese toestelle kan skade kry sodra die krag weer aankom. Daardie skielike opwelling in die kragtoevoer kan jou rekenaar of televisie beskadig. Dié sensitiewe toestelle het ’n konstante kragtoevoer nodig.
OPLOSSING: Die belangrikste ding wat jy kan doen, is om al die kabels by die muurproppe uit te trek sodra die krag afgaan. Kyk uit vir ’n surge protection device, wat die skielike opwelling in krag sal reguleer en so jou toestelle beskerm. Een so ’n produk is die APC P5BT-SA Essential SurgeArrest, wat R238 by Estorm.co.za kos.

En wat van die kos in die yskas?

PROBLEEM: As die krag afgaan, kan jy amper ruik hoe die melk suur word elke keer as jy by die yskas verbyloop. Om nie eers te praat van die vrieskas vol vleis nie.
OPLOSSING: Dis baie belangrik dat jy die yskas so min moontlik oopmaak as die krag af is. Hoe meer jy dit oopmaak, hoe vinniger sal al die koue lug uitlek. ’n Yskas wat nie oopgemaak word nie, sal tot vier uur lank koud bly. Maar as jy steeds bekommerd is, kan jy water in bottels vries. Jy sit dit dan by die kos in die yskas om dit koud te hou. Hou maar die vrieskas toe.

Maak seker daar is lig in die donker

PROBLEEM: Die onmiddellike probleem met beurtkrag is dat jy jou skielik in die stikdonker kan bevind. Kerse is goedkoop en gerieflik, maar nie altyd die beste plan nie. In die eerste plek maak ’n enkele kers net ’n klein kolletjie lig. Tweedens is dit gevaarlik, want iemand kan dit maklik omstamp of jy kan met die kers nog aan die brand aan die slaap raak.
OPLOSSING: Maak seker jy laai ’n flitslig-toepassing op jou foon af. Gaan kyk na een soos Super-Bright LED Torch-app, wat die flits van jou kamera gebruik om meer lig te skep. Dis verniet op byvoorbeeld die Google Play-winkel. Koop ook sonligte om te gebruik as die krag af is. Jy kan ’n oulike enetjie vir R25 by Game kry.

Wat as jou hare nog nat is?

PROBLEEM: Jy moet binnekort die oggendverkeer aandurf en jy het so pas jou hare gewas. Skielik gaan die krag af. Nou sit jy met nat hare. Jy kan die beurtkragtye byderhand hou en probeer om nie dan hare te was nie. Ongelukkig hou Eskom nie altyd daarby nie.
OPLOSSING: Koop ’n klein kamphaardroër wat met ’n battery werk. Outdoor Warehouse het een vir R140. Dit sal dalk nie sterk genoeg wees om jou hare goed te stileer nie, maar jy sal dit droog kry.

Sorg maar dat al die batterye gelaai is en jou motor se tenk minstens halfvol is. As die krag af is, gaan die petrolpompe waarskynlik ook nie werk nie.