Hoe om boksiekleur foutloos te gebruik

0
31
Pascal_Pienaar.jpg

Pascal Pienaar, Karli in Binnelanders, het al baie met haarkleur geëksperimenteer. Só kan jy flops vermy.

Eksperimenteer met haarkleur om vas te stel wat jou pas

Die lewe is heeltemal te kort om eentonig te lyk. Tans is my hare goudblond, maar ek sal beslis ook iets waaghalsigs daarmee aanvang. My karakter in die sepie, Karli, het sulke perserige haarpunte in haar huidige storielyn. Dit pas by haar impulsiewe streke as iemand wat op die ritme van haar eie trom dans. Ek was nog altyd gek oor eksperimenteer met haarstyle en haarkleure. As ek kon, was my hele kop nou blou!

Boksiekleur werk as jou hare ’n enkelskakering is

Op die stel van Binnelanders het ons ons eie haarstudio en die meeste stileermiddels wat daar gebruik word, is professionele salonprodukte. Die hitte van die ateljeeligte en die uitwerking van daaglikse stilering maak die regte sjampoe en goeie haarbehandelings ’n móét. Maar die haarkleursel vir donker, ryk enkelskakerings is sommer boksiekleur wat jy by die supermark kan koop. Dit lyk fantasies aan die akteurs wat hulle hare daarmee kleur.

Nie alle haarskakerings kan oornag bereik word nie

My natuurlike haarkleur is vaalbruin en as ek tyd in die son deurbring, kry ek natuurlike blonde strepies. Dit gebeur deesdae al minder, want ek is nie meer lief daarvoor om in die son lê nie. Dus is ek, soos menige vrou, dankbaar daar is iets soos haarkleursel om my mooier te kroek! Maar jy moet soms jou entoesiasme met so ’n gekleur aan bande lê.

Ek het laasjaar in Desember haarsalon toe gegaan om my haarwortels te laat opknap. Ek vra toe die stilis op die ingewing van die oomblik vir platinum strepe. Ongelukkig het my hare stomp afgebreek na dié drastiese kleuringryping. Daar ís ’n truuk daaraan om platinum hare te kry En dit is dat die duurder, langer proses soms die een is wat die beste kleurresultaat gaan lewer.

’n Gesonde, mooi haarkleur verg voortdurende onderhoud

Raquel, ons haarstilis by Binnelanders, dokter my hare weekliks met ’n Joico behandeling. Te danke aan haar is my haardos al myle beter, sterker en amper weer 100 persent gesond.
Sy het my geleer om my hare uit te kam voor ek dit was. Dit verseker dat my hare nie koek as ek dit was nie. Sy het ook voorgestel ek kam my hare gedurende opknapping. Jou hare se vogbalans moet herstel word en so verseker jy die opknapper word eweredig deur jou hare versprei.

Ek was verder my hare net drie keer per week. Dit gee my hare kans om te rus. Ek is in elk geval heeltemal te ongeduldig om met my dik hare en ’n haardroër te sukkel. Ek gebruik ’n haardroër net in die winter as drip dry nie ’n opsie is nie. Oor naweke maak ek my hare lossies in ’n hoë poniestert bo-op my kop vas, sodat dit nie moet breek nie.

Geskryf deur Ryno Mulder

Lees ook: Grimering wat aanbly … en aanbly