Hoe om die regte keuses te maak

0
94
regte-keuses.png

Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, soms loop dinge skeef. Of jy moet ’n keuse maak en jy weet nie watter kant toe nie. Hoe nou?

Een van die beste voorbeelde in die Bybel van iemand wat in ’n penarie was, is seker Josef.

Nog voor Josef en Maria getroud is en intiem verkeer het, was sy swanger. Die Heilige Gees het ’n baba in haar verwek.

Josef was in ’n dilemma. Wat moes hy doen? Aan die een kant was hy ’n wetsgehoorsame man. Hy wou doen wat reg is. Maar aan die ander kant wou hy Maria die openbare skande spaar.

Hoeveel keer moes jy nie ook al ’n moeilike keuse maak nie? Jy is tussen die duiwel en die diepblou see, dit maak nie saak wat jy kies nie, iemand gaan seerkry en jy moet die gevolge dra. Daar is twee tipes dilemmas – een waar beide opsies reg is, maar een is moontlik beter vir jou. Of jy moet kies tussen reg en verkeerd, wat op die oog af makliker lyk, maar dikwels net so moeilik is.

Sê nou maar jy volg die regte prosedure en jou beste vriendin kry nie die werk by jou maatskappy nie. Dit beteken hulle gaan geldelik sukkel en kan selfs hulle huis verloor. Jy wil so graag die regte ding doen, maar hoe sal jy haar ooit weer in die oë kan kyk? Sien, dis nie altyd so maklik nie.

Of miskien moet jy kies tussen twee kontrakte, want jy kan onmoontlik albei behartig.

Watter een kies jy? Albei gaan min of meer dieselfde eise aan jou stel en dieselfde inkomste inbring. As jy net kon weet watter een die regte een is om te kies.

In sulke omstandighede wens jy dat jy ’n kykie in die toekoms kan kry. Josef het seker ook. Hy was so benoud dat hy besluit het om stil-stil te verdwyn. Dit was die maklike manier om sy probleem te hanteer, maar nie die regte manier nie. En wat gebeur toe? ’n Engel verskyn in ’n droom aan hom en sê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.”

As dit maar net met jou kon gebeur, as jy die antwoord in ’n droom kon kry, sou dit wonderlik wees! Maar Josef het bloot ’n boodskap gekry. ’n Boodskapper is na hom gestuur deur ’n droom. Josef moet steeds self kies om na die boodskap te luister.

Jy sal op dieselfde manier ook boodskappe kry, maar in ’n ander vorm as wat jy verwag.

Jy moet steeds kies of jy na die prediker, die radiostasie, die SMS-boodskap, die Skrifgedeelte of die vriendin gaan luister wat so “toevallig” vir jou iets sê wat jy moet hoor. En soms kry jy ook die boodskap in ’n droom, maar dan skrik jy wakker en wonder of dit regtig van die Here af was. As jy net nog ’n bevestiging kan kry, en nog een, en nog een …

Josef het gekies om na die boodskap te luister, en alles het goed uitgewerk. Dit weet ek en jy vandag, maar hy het dit nie geweet nie! Hy moes hoop en glo en die onverskrokke stap neem. Dink hoe moeilik dit vir hom was. Net so min soos jy weet of jy die regte kontrak kies, net so het hy seker ook getwyfel.

Maar leer by Josef. As jy aanhou hoop en glo wanneer jy jou in ’n dilemma bevind, sal jy die regte leiding kry en sal alles op die ou end vir jou goed uitwerk. Die Here gebruik dikwels ook dilemmas om jou nader aan Hom te bring. “Kies My,” sê Hy. En dit is eintlik die enigste keuse wat daar is!