HOE OM… eenvoudiger te leef

255
Hoe om eenvoudiger te leef

Jou huis is vol goed en sentimentele dinge wat jy oor jare opgegaar het. Raak eerder ontslae van die chaos en kry ’n eenvoudiger lewe.

Behou die herinneringe en raak ontslae van die res

As jy leer om van jou goed te laat gaan, is jy reeds op pad na groter produktiwiteit, effektiwiteit, kreatiwiteit, spontaniteit en meer tyd!

Hou slegs dit wat jou goed laat voel, beter laat funksioneer en die kwaliteit van jou lewe verbeter. Dit sluit nie net fisieke rommel in nie, maar ook ’n emosionele warboel.

Hou dus op dink dat jy goed weggooi, maar dink eerder hoe iemand se lewe daardeur verryk kan word. So vereenvoudig jy ook iemand anders se lewe.

Dis mos nie nodig om van die herinneringe ontslae te raak nie!

Kry jou kop skoon, dan val alles in plek

Die meeste van ons voel emosioneel beter wanneer die huis en kaste in orde is. Jy kan dit andersom ook doen en by jou kop begin!

Dink jouself in ’n eenvoudiger lewe in en die res sal volg. Jou kaste en lessenaar sal ook mooi skoon wees as jou kop skoon is.

Fokus op hoe jy jou lewe wil vereenvoudig. Dink helder en in soveel detail moontlik aan jou droom.

Dit sal help om dit neer te skryf. Dan sal jy daardie droom vir ’n eenvoudiger lewe ernstig opneem en iets daaraan doen!

“Nee”, laat die klotter in jou hart opklaar

Maak ’n lysie van alles wat net jy kan doen. Net jy kan ’n ma vir jou kinders wees. Net jy kan ’n goeie vrou vir jou man wees. Net jy kan aan jou geestelike groei werk.

Al die ander dinge is waarskynlik nie ’n hoofprioriteit nie en kan gaan. Moenie vaskyk teen dit waarvoor jy “nee” sê nie, maar dink eerder aan alles waarvoor jy “ja” sê.

Wees eerlik, direk en taktvol. So staan jy op vir jou regte sonder om ander te benadeel. Weier die mense wat nie bereid is om jou te help groei nie

Doen elke dag iets kleins om orde te skep

Werkende vroue het minder tyd vir ander dinge, soos huis aan die kant hou. Dit voel asof daardie hoop rekeninge in die studeerkamer net nie kleiner word nie.

Die kas in die spaarkamer word ook al hoe voller van jou ou klere.

Moenie wag tot dit ’n onoorkomelike taak word nie. Kry byvoorbeeld 5 minute elke aand ná ete om gou op te ruim. As jou huis skoon is, kan jy wel by jou hoop rekeninge uitkom.

Sit byvoorbeeld klere in ’n trommel vir jou vriendin se kinders om mee te speel wanneer hulle kom kuier.

Maak so met e-posse wat opgaar

Stel jou selfoon se alarm om oor 30 minute af te gaan. In hierdie tyd moet jy alle e-posse wat jy moontlik kan, beantwoord. As daar nog ’n paar uitstaande is, moet dit wag tot later.

Beantwoord die belangrike boodskappe eerste. Moenie dié wat jou baas aanstuur, laat wag omdat jy besig is om eers met jou vriendin te gesels nie.

Sodra ’n e-pos afgehandel is, moet dit dadelik uitgevee word. Jy kan die belangrikstes, waarna jy weer sal moet verwys, uitdruk en liasseer of in ’n lêer op jou rekenaar bêre.