Hoe om effektief oor geld te argumenteer

0
37
tips_vir_die_liefde.jpg

Baklei jy en jou man gedurig oor geld? Daar ís ’n oplossing en julle kán dit saam bestuur.

Julle stry altyd oor geld en dit vernietig stadig maar seker julle huwelik. Vind so gou as moontlik ’n manier om julle finansies as ’n span te bestuur. Hier is nege wenke om dit te doen:

WENK 1: Erken die werklikheid dat julle verskillend dink en doen.  Elkeen het immers verskillende rolmodelle, behoeftes, prioriteite en drome oor geld.

WENK 2: Gee toe dat perspektiewe verskil. Erken dat jou manier nét joune is en nie noodwendig die regte manier is nie.

WENK 3: Vra jou maat om jou te help om sy benadering tot geld en die gebruik daarvan te verstaan.  Luister dan noukeurig na die vrese, wense, prioriteite en emosies rondom die saak wat in sy hart lê.

WENK 4: Neem die kwessie rondom suinig versus spandabelrig in ag. Wanneer jy suinig spandeer, kan dit hom ingeperk laat voel en wanneer jy spandabelrig is, kan dit hom laat voel dat jy julle geld mors.

WENK 5: Maak tyd vir geld-gesels. Skep gereeld geleenthede om oor julle finansies te gesels. 

WENK 6: Maak planne voor die tyd. Beplan vooraf hoe julle die volgende bonus gaan aanwend en hou by die ooreenkoms.

WENK 7: Moenie mekaar vir die probleem blameer nie. Besluit om dit as júlle probleem te sien. As julle saam teen die probleem staan en saam oplossings soek, is die kanse beter dat julle die spel sal wen.

WENK 8: Voorsien in elkeen se behoeftes. Besluit saam op bepaalde bedrae wat elkeen sonder die ander se toestemming aan eie behoeftes kan spandeer.

WENK 9:  Vermy eise, bevele, dreigemente, preke, skuldmanipulasie, veroordeling en voorskriftelikheid wanneer julle gesels. Dit maak julle opponente eerder as ’n span.

Deur in ’n spesifieke situasies maniere te vind om as span te funksioneer, sal julle later ’n goeie span word en ook ’n nuwe klomp lekkerkry in julle verhouding beleef.