Hoe om gelukkig oud te word

0
524
oudword.jpg

Wanneer die eerste plooie in jou mondhoeke kom nesmaak, weet jy die tyd het aangebreek. Ons kan nie die horlosie terugdraai nie, maar ons kan saam met die tyd wyser en sterker word.

Hulle sê ’n mens is so oud soos jy voel. Dis maklik om te sê, totdat selluliet die rede is dat jy jou swemklere diep wegpak en die lyne om jou oë nie meer as lagplooie of “karakter” afgemaak kan word nie. Dis wanneer jy die tand van die tyd aan jou lyf begin voel – allermins pret!

Die tyd het nou aangebreek vir ’n wyser, sexier en skerper jy. Hier is ’n paar maniere om die tyd se verloop tot jou voordeel te gebruik.

Kuier saam met jonger (en ouer) vroue

Ek is nou 38 en vir die eerste keer in my lewe voel ek oud. Behalwe my oorhangmagie, wat miskien niks met ouderdom te doen het nie, sien ek vlekke op my hande en sukkel om die grys toe te kleur.

Maar net voor ek die grys hare een vir een begin uittrek, begin ek by ’n tydskrif werk waarvan die redaksie amper agtien jaar jonger is as ek. Aan die begin was dit erg.

Voor ek my kom kry, gebruik ek frases soos “in my tyd” en daar voel ek net nog ouer. Nou, na ’n paar maande, geniet ek dit tussen hulle. Dis heerlik om soms net by hulle te sit en te hoor hoe opgewonde hulle is oor hulle eerste woonstel of eie motor.

Ek kuier steeds heerlik saam met my ouer vriendinne ook.

Vir my as “middeljarige” is dit goed om met ouer en jonger vroue kontak te hê. Beide bring wysheid en voordele op hulle eie manier.

Wat ek by my jonger vriendinne leer

Hoe om geen telefoonkoste te hê nie

Verby is die dae van MMS of SMS. Nou is dit BBM, WhatsApp, Facetime en Skype. Eintlik hoef jy niemand meer te bel nie. Ek verstom my aan al die apps wat my jonger kollegas op hulle slimfone aflaai.

Dat jy geen vervelige-nael-dag hoef te hê nie

Vergeet van bruinrooi of selfs bloedrooi. Daar is deesdae soveel naellakkleure as wat jy nodig het om jou bui te verbeter. Vir ander vroue lyk dit miskien verspot, maar vir my is dit heerlik om met verskillende patrone op my naels te eksperimenteer.

[pagebreak]

Dat die grootmenslewe met al sy verantwoordelikhede nie so sleg is nie

Dis nie lekker as jou salaris al die eerste dag van die maand op is wanneer die debietorders deurgaan nie, maar dis heerlik om tog jou eie plekkie en kar te hê.

Wat ek by my ouer vriendinne leer

Hoe voordelig dit is om ’n senior burger te wees

Weet jy hoeveel afslag kry jy met ’n seniorburgerkaart? En daar is geen lang rye waarin jy ooit hoef te wag nie. Mense maak vir jou plek as jy oud is.

Trek klere aan wat by jou pas

As jy al soveel keer bell bottoms gesien kom en gaan het, gee jy nie om wat die mode is nie. Jy trek aan wat vir jou werk.

Jy hoef jouself nie te bewys nie

Teen 60 is ’n vrou gemaklik in haar eie lyf. Met soveel T-hemde waarop daar staan “Been there, done that” stres jy nie meer oor klein goedjies nie en gee jy ook nie meer om wat ander van jou dink nie.

Hou jou brein fiks en skerp

Begin met ’n nuwe stokperdjie. Navorsing aan die Columbia Universiteit in die VSA het getoon dat mense met ses of meer intellektuele, sosiale of fisieke ontspanningsaktiwiteite se kans om later demensie te ontwikkel, 38% minder is as dié van mense wat nie stokperdjies beoefen nie. Met elke bykomende stokperdjie verminder daardie persone se kans om siektes soos Alzheimer te ontwikkel met ’n verdere 8%.

Dit maak nie eintlik saak watter soort stokperdjie dit is nie – of dit nou is om boeke te lees in ’n genre wat jy nie gewoonlik lees nie of om te leer skaak speel – solank dit jou uitdaag en interesseer.

Al hierdie aktiwiteite skep nuwe verbindings tussen die senuweeselle, oftewel neurone, en hoe meer keer jy daardie neurone gebruik, hoe sterker word dit. So, bou jou brein se kognitiewe reserwe op – groot woorde wat beteken dat jou brein ’n vermoë opbou om geheueverlies teen te werk.

Speel is meer as pret en kinderspeletjies

Speel help jou om te ontspan, verhoudings te bou en te ontdek. “Spel help mense met geestelike veerkrag,” verduidelik spelterapeut, Danelle Botha. “Wanneer ’n kind se blokkies omval, moet hy dink hoe om dit anders te doen en begin dan van voor af.”

Hoe begin ’n mens weer speel? “Dit gaan miskien snaaks voel, maar begin deur jou sintuie in te span: eet geblinddoek, blaas borrels, rol van ’n hoogte af, maak lawwe slurpgeluide, kruip handeviervoet oor die vloer.

[pagebreak] Gaan na ’n speelgoedwinkel en koop die stel blokkies waarvan jy die meeste hou en kyk wat jy daarmee kan doen.

“Gebruik spel om probleme op te los. Teken ’n prentjie om jou idees oor te dra. Bring tyd saam met kinders deur en laat hulle toe om die aktiwiteite te lei. Kinderboeke en -televisieprogramme help ook baie om weer jou speelse self te ontdek.

“En skep. Gaan lê op jou rug en kyk na die wolke of die sterre. Maak jou eie stories. Jy sal verbaas wees hoe jonk en verfris jy kan voel na ’n speelsessie. Gaan ontdek weer die kind in jou.”

Gee jou oor aan bekommernis

Bekommernis kan jou letterlik voor jou tyd oud en grys maak, maar partykeer is die enigste manier om van bekommernis ontslae te raak om jou daaraan oor te gee. Deur in sommige gevalle die ergste scenario van jou bekommernis te skep en jou vrees te ervaar, maak jou minder bang daarvoor. Sielkundige Sonet Barnard gee vier stappe hoe om by die wortel van jou bekommernis te kom:

  1. Besluit op ’n tyd. As daar iets is waaroor jy jou bekommer, gebruik tien minute op ’n dag om daarop te fokus.
  2. Fokus op jou bekommernis. Verbeel jou dan die ergste wat jou kan oorkom as daardie bekommernis waar word. Laat jouself toe om regtig angstig te raak: Jy kan nie jou huur betaal nie. Jy word uit jou woonstel gesit. Jy en jou kat is nou sonder ’n huis. Die kat hardloop weg. Jou vriende los jou. Jou kêrel los jou. Nou gaan jy nooit trou of kinders hê nie, wat beteken dat jy eendag oud en alleen sal doodgaan sonder jou kat.
  3. Hopelik sal logika êrens in die proses inskop. (Wat op aarde doen ek? Om een betaling van my huurgeld te mis, beteken nie ek gaan eendag oud en alleen doodgaan nie.) Hou egter steeds aan om die donkerste prentjie vir jouself te skets.
  4. En dan, eensklaps, is die bekommernis weg. Jy behoort beter te voel na een sessie, maar soms is ongeveer tien van hierdie sessies nodig om die angstigheid van hierdie bekommernis weg te neem.

Ons het almal ’n geboortedatum en gaan almal die een of ander tyd ’n sterfdatum kry. Wat jy tussen hierdie twee datums doen, is jou keuse, maar aangesien oudword onvermydelik is, kan jy dit netsowel met grasie doen.