HOE OM… grense te stel

235

Misbruik mense jou? Is dit moeilik om nee te sê? Sê totsiens vir die behoefte om almal tevrede te stel en sê hallo vir die nuwe jy!

Die meeste vroue is people pleasers

Ons wil graag hê ander moet van ons hou. En ons fokus so daarop om liefdevol en onselfsugtig te wees dat ons vergeet van ons eie geluk.

Soms laat vroue toe dat ander hulle manipuleer. Soos wanneer die kinders bel met ’n krisis by die skool en Ma alles los en soontoe jaag.

Dis moeilik om besluite te neem, want jy weet nie eintlik wat jý wil hê nie. Daarom is die antwoord altyd ja, anders sal mense dink jy is selfsugtig of lui.

Maar binnekant voel ’n mens kwaad en veronreg omdat jou goedheid misbruik word.

Jy wil help want jy is bang vir verwerping

Baie mense loop rond met die gedagte dat hulle nooit aanvaar sal word as hulle hulle ware kleure wys nie.

Daarom dra hulle eerder maskers en volg die stroom.

Jy wil nie vir jou beste vriendin vertel hoe jy regtig voel nie, want sê nou sy wil nie meer jou vriendin wees nie?

Wat nou gebeur is dat jy ja sê vir baie meer dinge as wat jy regtig kan hanteer. Die ironie is dat wanneer ons duidelike grense begin stel, ons outomaties die aanvaarding en respek sal kry wat ons verdien.

Wees getrou aan jou waardes en innerlike balans

Voordat jy gesonde grense kan stel, moet jy dit eers regkry om jou ware self ’n kans te gee. Baie vroue vind dit moeilik om te ontspan en hulleself te wees.

Dis nie nodig om jou man, kinders, baas of vriendinne te beïndruk nie. As wat jy doen nie deur God goedgekeur word nie, sal al die eer in die wêreld in elk geval niks beteken nie.

Kies om die ware jy te wees. Die ontspanne jy. Soms sal mense van jou hou en soms nie. Dit is net belangrik om altyd van jouself te hou.

Leef volgens jou eie maatstaf, nie ander s’n nie

Die meeste vroue kan nie reguit sê wat hulle wil hê en nodig het nie.

Dis moontlik om enigiets te kry, maar daar sal altyd ’n opoffering wees. Dink dus mooi oor wat regtig belangrik is.

Stel ’n plan vir jou lewe op en elimineer dinge wat nie daarmee strook nie. Vra in elke situasie: Watter besluit gaan my lewe vorentoe laat beweeg?

Word bewus van jou optrede en verstaan die motivering daaragter. Leer ken die vrou wat almal tevrede wil stel. Wat probeer jy daaruit kry – liefde, aanvaarding of vriendskap?

Stel gesonde grense met liefde en grasie

Wees eerlik en sê dat jy besig is om hieraan te werk. Dié wat regtig omgee, sal verstaan.

Sê eers vir klein dingetjies nee. Soos wanneer jou dogter ’n rok wil leen wanneer jy dit self wil aantrek. Dit is goeie oefening vir groter dinge.

Hoe meer gereeld “nee” uit jou eie mond kom, hoe makliker is dit om dit te sê!

Dit is nie selfsugtig nie en dit sal niemand seermaak nie. Grense sal dit net makliker maak om meer vir ander te beteken, omdat jy self gelukkig is.