Hoe om jou emosies te beheer

0
69
Lynette Beer

Voel jy altyd kwaad, gegrief en negatief? Dit is omdat jou emosies die oorhand oor jou kry. Lynette Beer verduidelik hoe om daarvan los te kom.

Voel jy altyd kwaad, gegrief en negatief? Dit is omdat jou emosies die oorhand oor jou kry. Lynette Beer verduidelik hoe om daarvan los te kom.

Mense is emosionele wesens. Daar is ook nie fout daarmee om emosies te wys nie. Dis hoe ons geskape is, maar as jy toelaat dat jou emosies oorneem, kan dit die lewe vir jou baie moeilik maak. As dít gebeur, sal jy jou visie vir die toekoms en jou drome heeltemal uit die oog verloor. Dis uiters belangrik dat jy jou emosies moet kan beheer.

Moenie dat jou emosies die oorhand kry nie

Wat doen ons met ons emosies? Ai tog, ons gee dit vrye teuels. Maar hoekom? Dit is eintlik heel eenvoudig. Die emosionele kern van die brein werk 80 000 keer vinniger as die logiese, denkende gedeelte. Dis waarom jy partykeer jou tong kan afbyt oor iets wat jy in ’n oomblik van woede gesê het.

As jy nie nugter dink nie, sal jou emosies met jou mors en jou ellendig en hopeloos laat voel. Jy het altyd ’n keuse oor wat jy met jou emosies gaan doen. Dit voel dalk nie so as die taxi voor jou inswenk in die verkeer nie, maar dit is tog moontlik. Jy kan kies om kalm te bly! Jou emosies beïnvloed elke terrein van jou lewe. Wie en waar jy vandag is, is as gevolg van besluite wat jy geneem het toe jy deur emosies beïnvloed is. Waar jy jou oor ’n maand of ’n jaar sal bevind, sal ook bepaal word deur die emosionele keuses wat jy sal maak. Die maak nie saak hoe intelligent jy is nie, jou emosies oorskadu gewoonlik jou intellek. Moet daarom nooit die krag van emosies onderskat nie.

Jou gedagtes is ongelooflik belangrik, want jou gevoelens word grotendeels beïnvloed deur hoe jy dink. As jy bang en kwaad is, sal jy mos negatiewe of kwaai gedagtes dink. Hierdie negatiewe gedagtes kweek nóg negatiewe gevoelens en ’n bose kringloop ontstaan. Vrees en woede is boelies. Soos die meeste boelies raak hulle al hoe meer arrogant hoe meer jy toelaat dat hulle jou rondstamp.

Oefen beheer uit oor jou emosies

Wanneer jy die emosie voel, moenie toegee daaraan nie. Moenie weghardloop nie, wees net getrou en gehoorsaam. Daar is mos Iemand by jou. Jy hoef nie lam in jou bene te word nie; jou mond hoef nie droog te word nie; jy hoef nie te sweet by die gedagte aan wat voorlê nie.

Jy wonder dalk nou: Dis goed en wel, maar hoe doen ’n mens dit? Deur die beloftes in die Woord aan te haal in jou oomblikke van onsekerheid. Jy weet mos Hy het gesê Hy sal jou nooit verlaat nie.

Moenie dooie vrese lewendig dink nie. Dis heeltemal moontlik om te doen wat jy wil doen en moet doen, al moet jy dit mét die gevoel van vrees doen. Die oplossing lê nie in die afwesigheid van die gevoel nie, maar wel in die beheer van die gevoel. Die kuns is om positiewe aksie te neem – in die teenwoordigheid van vrees.

Wanneer jy vrees voel, onthou dit is slegs ’n gedagte. Jy het die keuse en krag om ’n ander, meer positiewe gedagte bo hierdie negatiewe gedagte te kies. Die keuse is joune. Jy kán negatiewe en destruktiewe gedagtes vermy en kies wat jy wil dink.

Jy moet egter doelbewus kies om die regte gedagtes te dink. Dit sal tot gevolg hê dat jy die regte dinge sal sê en die regte dade sal daarop volg. Jy moet elke dag doelbewus en voortdurend kies om met jouself te praat (en soms te raas!) om die effek en die houvas van vrees te oorwin.

lyn_3.png

Lynette Beer was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen.
Lynette is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid”. Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW).
Besoek haar webwerf: lynette@seedsofinspiration.co.za.