Hoe om jou huwelik te red

0
342
huwelik.jpg

Daar is maniere om weer alles in te sit en julle huwelik te laat werk.

Jy sê: Ek het my man om ’n egskeiding gevra, want ek kán nie meer nie. Baie dinge het al in ons huwelik gebeur waaraan ons albei skuld het, maar ek is nou op die punt waar ek voel dis nie meer die moeite werd nie. Ek dink ’n egskeiding is al uitweg as ek weer gelukkig wil wees.

Hy sê: Ek weet ons huwelik is nie wat dit moet wees nie, maar dit het vir my as ’n skok gekom toe sy sê sy wil skei. Ek het nie besef sy is so ongelukkig nie. Ek is lief vir haar en wil haar beslis nie verloor nie.

Deon en Karin du Toit van Huweliksfokus sê die meeste mense het min kennis oor die huweliksverhouding en probeer maar so op hulle eie aangaan. Ons het self 15 jaar gelede gevoel ons huwelik is dood en dat daar nie hoop is om dit te red nie. Toe word ons nan huweliksverryking-naweek genooi waar ons vir die eerste keer regtig geleer het oor die huwelik en die dinamika wat onstaan wanneer jy hierdie verbond met God sluit.

Moenie wag tot jy moedeloos en teen die grond is voordat jy hulp gaan soek nie. En moenie die fout maak om te dink daar is dalk iemand anders wat vir jou ’n beter huweliksmaat sal wees nie – werk liewer aan die huidige een en sorteer dit uit. Tweede en derde huwelike raak net moeiliker en moeiliker.

Liefde is ’n keuse

Al sê jy “ek is nie meer lief vir my maat nie”, is dit nog geen grondige rede vir egskeiding nie. Die huwelik is gebou op Agape liefde, wat niks met gevoel te doen het nie maar ’n gehoorsaamheidskeuse aan God is. Die geestelike sanger Don Francisco sê: Love is not a feeling but an act of your will. God vergewe ons die sonde van egskeiding, maar ongelukkig moet ons die gevolge van ons keuses dra – en egskeiding bring pyn en gebrokenheid mee.

Leer om mekaar te vergewe

Vergifnis is die enigste manier om gebroke verhoudings te herstel en genesing te bewerkstellig sodat julle die pad vorentoe kan aanpak met julle verlede ‘afgehandel’. Vergifnis is nie ’n towerwoord om gedrag te verander nie. Maar indien ons nie vergewe nie, bind ons God se hande vas om ons te help.

Aanvaar jou maat

Aanvaar jou maat vir wie hy of sy is. Skryf alles neer wat jy van jou maat gaan aanvaar, al is dit vir jou hóé moeilik. Neem dit as ’n offer na God met ’n gebed waar jy jou maat aan die Here toevertrou. Haal jou oë van jou maat af en vra God om met jóú te begin en jou die soort mens te maak wat Hy wil hê jy moet wees.

Respekteer mekaar

God het die man aangestel om eerstens onderdanig aan Christus te wees en tweedens hoof van sy vrou. Die oomblik wat ’n man in sy eie gesag hoof wil wees, sal sy vrou en kinders in opstand kom daarteen. Respekteer jou man, asof vir Jesus self, en wees ’n maat vir hom. ’n Vrou se respek is die sleutel tot haar man se hart en deur jou voorbeeld kan jy jou man tot inkeer bring.

Glo in jou man se goedheid

Kies om te glo dat jou man jou nie moedswillig seermaak of te na kom nie, al voel jy soms so. Kies om te glo dat hy, net soos jy, graag ’n gelukkige huwelik wil hê en dat Satan die vyand is wat verantwoordelik is vir die misverstande tussen julle. Staan as ’n eenheid teen die vyand en besef dat albei van julle seerkry.

Maak ’n weeklikse afspraak

Skryf die afspraak in julle dagboeke. Dit mag nie afgestel word nie! Sit op die mat, steek ’n kersie aan en gesels oor enigiets. Doen moeite om mekaar weer te leer ken. Dit sal ’n geruime tyd neem voor julle weer veilig by mekaar voel.

Kry ’n gesamentlike visie

Beplan saam julle pad vorentoe – sonder om gedurig agtertoe te kyk. As herinneringe aan die verlede swaarder weeg as hoop en beplanning vir die toekoms, kan julle nooit vooruit gaan nie. Daarom moet julle mekaar vergewe en alle uitdagings op die pad vorentoe sien asof dit vir die eerste keer gebeur.

Liefde is soos ’n tuin …

Sanger Lochner de Kock en Christine Pretorius is al 31 jaar getroud.

Lochner sê: “Ons het van die begin af besef dat, omdat geliefdes so naby mekaar leef, ’n mens mekaar eintlik met méér respek, hoflikheid en deernis moet behandel in die alledaagse omgang as vriende, kollegas of familie.”

Christine sê: “Ons is geseënd omdat ons in 31 jaar nog nie met groot probleme gekonfronteer is nie.’n Verhouding is soos ’n tuin: bestee daagliks tyd, energie en liefde aan die instandhouding daarvan.